Organisasie hard aan die werk om rommelstrooi te beperk

Llewelyn Grootboom (heel regs) by lede van CapeNature en vrywilligers tydens die opruimingsprojek. Foto verskaf

Lede van die gemeenskap het in Junie twee dae daaraan gewy om rommel wat onwettig by ʼn erfenisterrein en ook in ʼn reservaat gestrooi is, op te ruim. Karoo Bossies onder leiding van Llewelyn Grootboom het op Jeugdag rommel wat in die Joodse begraafplaas gestort was, opgeruim en 15 sakke vullis verwyder.

Die omgewingsbeampte van Oudtshoorn, Ambrose Carelse, het die groep geloof vir die rol wat hulle speel om die omgewing rommelvry te kry. Die volgende dag het die groep in samewerking met lede van CapeNature meer as 20 sakke rommel in die Grootkop natuurreservaat naby die terrein van korrektiewe dienste bymekaar gemaak en verwyder. Dié dag was ook internasionale dag teen verwoestyning waar die fokus op die rehablitasie en beskerming van plantegroei is om te voorkom dat dele van die natuur in woestyne verander.

Na afloop van die twee dae het Grootboom gesê Karoo Bossies werk aan ʼn volhoubare program om inheemse flora aan te plant, kwekerye te stig vir die kweek van bedreigde en medisinale plante en mense wat natuurlike plante vir gebruik oes, deeglik op te lei.

Lede van die gemeenskap wat by Karoo Bossies se inisiatiewe betrokke wil raak kan Llewelyn Grootboom by 076 225 7822 kontak. (HANNES VISSER)