Die oud-onderwysman en gemeenskapsleier David Piedt gesels verlede Donderdag met ’n groot groep van meer as 100 oud-onderwysers oor pensioen-regstellings. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
’N GROOT groep oud-onderwysers van die Oudtshoorn- en Ladismith-omgewing wil nou ook aansoek doen vir pensioenregstellings wat tans uitbetaal word aan ’n groep onderwysers wat deur apartheid benadeel is. Slegs onderwysers wat teen 2 September 1998 in diens was en aan sekere vereistes voldoen het, het die geleentheid gehad om voor 2012 aansoek te doen vir dié regstellings.
’n Groep van meer as 100 oud-onderwysers van Oudtshoorn en Ladismith wat Donderdagmiddag by Aurial Kollege op Oudtshoorn saam met die oud-onderwysman en gemeenskapsleier David Piedt oor die kwessie vergader het, het voor 1998 uit diens getree, maar sê hulle is op dieselfde manier benadeel as diegene wat tans uitbetaal word.
Piedt sê vroue was onder die grootste slagoffers van die onderwysstelsel vir bruin Suid-Afrikaners onder apartheid en moes byvoorbeeld bedank en diens onderbreek as hul kinders gebore moes word. Dit het hul dienstydperk aansienlik verkort en veroorsaak dat hulle kleiner pensioene kry.
“Hierdie benadeelde onderwysers sal wil sien dat Resolusie 7 van 1998 hersien moet word.
“Dié resolusie verhinder dat opvoeders van die vyftiger-, sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare deel van die proses van regstelling is. Die resolusie sluit feitlik al die apartheidsopvoeders uit.”
Die meeste van die groep wat voor 1998 uit diens getree het, het dit tussen 1993 en 1996 gedoen toe onderwysers verminder en ’n bedrag geld aangebied is as hulle die onderwys vrywillig verlaat.
• Die huidige pensioenregstellings bevoordeel slegs twee groepe onderwysers wat in September 1998 in diens was: vroue wat moes bedank as hul kinders gebore word en by hul terugkeer onder die tydelike werknemerspensioenfonds geplaas is, en Suid-Afrikaanse burgers wat in die voormalige tuislande in diens was of tot die tydelike pensoenfonds behoort het as gevolg van mediese status.