
Die mense van Plumbline Restoration is van links Jennifer Koelman (berader), Gailene Prins (administratiewe klerk), Brenda Claas-sen (berader) en Salome Leonly Plaatjies (berader en bestuurder). Afwesig: Daniel Plaatjies (berader). (Foto verskaf.)
• Gratis berading vir kinders en volwassenes
Deur Ilze-Mari Gründling
HOEWEL Kinderbeskermingsweek verby is, staan die personeel van Plumbline Restoration reg om almal, jonk en oud, enige tyd te help.
Die organisasie sonder winsbejag is in November 2016 gestig en is elke dag oop én besig. Daar is tans vier beraders wat regstaan om te help.
“Ons deure is altyd oop. Ons beraders is ook al deur moeilike tye in hul lewens en het begrip vir elkeen wat aan ons deur klop vir hulp,” sê Salome Plaatjies, bestuurder van Plumbline Restoration.
Plaatjies sê iemand sal altyd luister en berading is gratis.“Ons hou ons afsprake kort na mekaar omdat ons daar wil wees as iemand hulp nodig het. Baie keer moet mens lank wag vir ’n tweede afspraak en ons wil dit voorkom. Die eerste afspraak sal ’n bietjie moeilik wees, maar daarna sal dit makliker word. Ons doel is om mense te lei na ’n plekkie waar die son skyn.”
Plumbline Restoration is oop vir kinders en volwassenes. Die kantoor is op die eerste vloer van die Johan Wagener-gebou in Kerkstraat, kantoor 17A en B. Kontak Salome Plaatjies by 071 959 5151 vir enige navrae.