Massiewe behuisingsagterstand op dorp aangespreek
Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit is kliphard aan die werk om ’n massiewe behuisingsagterstand onder sy inwoners aan te spreek.
Dit was verlede Donderdag duidelik toe die raad by ’n spesiale raadvergadering besluit het om die herstrukturering van die Direktoraat Tegniese Dienste goed te keur deur die behuisingsafdeling daaruit te verwyder en ’n aparte Direktoraat Menslike Nedersettings daar te stel.
Duisende inwoners wag al tot vyf dekades lank op behuising en woon in tydelike strukture, dikwels in agterplase. Terselfdertyd is behuisingsprogramme tans beskikbaar wat vir mense met ’n inkomste van tot R15 000 per maand voorsiening maak.
Shehaam Sims, wat aan die hoof staan van die behuisingsafdeling sedert Januarie 2016 toe sy deur die provinsiale regering na Oudtshoorn gesekondeer is, sal optree as direkteur van die nuwe direktoraat.
Die raad het besluit om die Wes-Kaapse regering te versoek om Sims ’n verdere 12 maande as direkteur van menslike nedersettings na Oudtshoorn te sekondeer.
Die herstrukturing van die behuisingsdepartement in ’n direktoraat met voldoende, kundige personeel maak dit vir die munisipaliteit moontliker om aan die huidige behuisingsbehoeftes en -uitdagings en die wye verskeidenheid beskikbare regeringsprogramme waarvoor vir befondsing aansoek gedoen kan word, te voldoen.
Die herstrukturering van poste word na die plaaslike arbeidsforum verwys vir hul insette.
Aangesien die begroting slegs voorsiening maak vir 47% van die vakante poste in die nuwe direktoraat, sal aansoek gedoen word by die provinsiale regering vir die addisionele befondsing.
Luidens statistiek wat Sims aan die vergadering voorgelê het, het sy sedert Januarie 2016 by verskeie vergaderings met inwoners groot vlakke van frustrasie by hulle gevind.
Van die redes waarom inwoners so gefrustreerd is, is onder meer omdat daar volgens hulle geen beweging op die behuisingslys is nie, die toekenning van huise nie regverdig was nie, huise wat gebou is van swak gehalte was, huise aan verkeerde mense toegeken is, daar geen programme is vir mense wat in agterplase woon nie asook geen programme vir mense wat meer as R3 500 verdien nie.
Sy het die volgende relevante staistiek verstrek:
• Op 13 Maart 2017 was daar 12 936 aansoekers op die behuisingswaglys.
Die meeste van dié mense is agterplaasbewoners (8 400), woon in oorvol omstandighede (4 200) of in informele nedersettings (1 600).
• Die persoon wat die langste op die waglys is, is al sedert 1967 daarop en wag dus al 50 jaar op ’n huis. Die eerste 1 000 huise wat gebou word, sal gaan aan mense wat op die waglys is van tussen 1967 en 1993. Indien die munisipaliteit teen ’n tempo van 300 huise per jaar mense help, sal dit 48 jaar duur voordat iemand wat sy/haar naam vandag op die waglys plaas, behuising kry. Iemand wat 18 jaar oud is met aansoek sal dus op 66 jaar eers ’n huis kry.
• Die munisipaliteit se onlangse projekte was die opgradering van informele nedersettings in Rose Valley (966 huise) en klein invulprojekte in Bongoletu (129 huise). Dié verblyf is net beskikbaar vir mense wat minder as R3 500 per maand verdien.
• Daar is ’n menigte ander regeringsprogramme wat oorweeg kan word en waarvoor vir befondsing by die regering aansoek gedoen kan word, en wat volle of gedeeltelike subsidies bied vir mense wat tot R15 000 verdien.