
Deur Christine Schoeman
NOG ’n inwoner van Oudtshoorn is op haar eie inisiatief besig om die dorp op te ruim en te verfraai.
Santa Cassara (45) het onlangs besluit om die leë erf op die hoek van Reserwe- en Noordstraat skoon te maak en op te kikker met vetplante en klippaadjies.
Dié verfraaiingsprojek het op Dindag 7 Mei begin.
Volgens Cassara staan die erf al vir 26 jaar leeg en was dit oortrek met onkruid en rommel. Sy woon in die omgewing en vertel dit was vir haar elke keer onaangenaam om by dié verwaarlosde stuk grond verby te ry.
En toe het sy besluit om ’n plan te maak en in te gryp.
Sy het begin deur bakkievragte rommel en onkruid van die erf te verwyder. Sy wil nog van die groter bosse op die erf uitdun as die munisipaliteit daarvoor toestemming sal gee omdat daar mense is wat snags onder die bosse slaap.
Sy het begin om paadjies af te baken met klippe uit die omgewing en wat iemand vir haar geskenk het, en het ook reeds ’n verskeidenheid steggies en plantjies geplant.
Die plantjies kom uit haar tuin en is deur inwoners vir haar gebring nadat iemand oor haar mooimaak-werk op Facebook geskryf het.
Sy vertel sy beoog ook om in die toekoms dammetjies te bou wat drinkwater sal verskaf vir skilpaaie in die omgewing.
Cassara werk hoofsaaklik alleen aan hierdie opknappingsprojek, maar vertel haar ouma, Cecile Ungerer (92), help haar gereeld met verfraaiing én die tuinwerk!
Vir enige skenking en vrywillige werk, kan Santa by sel 076 126 9438 gekontak word.