Mense wat bome plant, glo in die toekoms!
Altesame 26 koorsbome is verlede Donderdag by die ingang van Oudtshoorn vanaf Calitzdorp geplant – tussen die inligtingsaftrekpunt en Parkweg. Dit is nog ’n tree in die verfraaiing van dié ingang deur ’n groepie vrywilligers met die ondersteuning van die Oudtshoorn Munisipaliteit. Hier is die twee inwoners wat die projek dryf en daagliks aan die gang hou, Ronell Louw (tweede van links) en Elmarie Lategan (vyfde van links), saam met van links Jaco Vorster van die Oudtshoorn Besigheidskamer wat die bome geskenk het, Christiaan McGear (superintendent parke), Zouwe Lesia (bestuurder parke en rekreasie) en Daniel en William Smuts wie se besigheid al die gate vir die bome gratis gegrawe het.
Onder: Een van die boomaalwyne wat onlangs as deel van die verfraaiingsprojek geplant is, in volle blom. Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
Oudtshoorniete se versugting dat die dorp se ingange verfraai moet word, is besig om te realiseer by die dorpsingang vanaf Calitzdorp.
Agter die inisiatief by dié ingang en die groot werk wat die afgelope drie maande daar gedoen is, is twee merkwaardige vroue van Oudtshoorn, Ronell Louw, en Elmarie Lategan, wat as vrywilligers daagliks betrokke is by die projek.
Louw het vroeër vanjaar die leiding geneem om die ingang te begin verfraai nadat ’n gemeenskapsvergadering oor die voorkoms van die dorpsingange in Februarie vanjaar deur die munisipaliteit gehou is. Inwoners was in daardie stadium baie ongelukkig oor die toestand van die dorp se ingange en middelmanne langs die hoofpaaie deur die dorp.
As ’n mens deesdae staan tussen die inligtingsaftrekplek en Parkweg kan jy visualiseer hoe mooi dit oor ’n paar jaar daar gaan lyk wanneer die 26 koorsbome wat verlede week daar geplant is, grootgeword het.
Wat die projek ook spesiaal maak, is dat die meeste bome en plante wat die afgelope maande daar geplant is, skenkings was van inwoners.
Die koorsbome is deur die Oudtshoorn Besigheidskamer geskenk met Daniel en William Smuts wat die gate vir die bome gratis laat grawe het. Ander skenkings het gekom van Erik Davel (40 spekbome), Hein Jonker (klippe van sy plaas af), Hugo van der Berg (gruisklippies), Mario Strydom en Hikkie Marais (3000 liter water elk), Hazel Jonker en Engela Olivier (twee groot boomaalwyne), terwyl talle ander inwoners plante en steggies geskenk het.
Louw sê sy sal nie aan die projek onttrek as dit klaar is nie omdat die voortdurende onderhoud van so ’n terrein belangrik en noodsaaklik is.
“Ek hoop die projek sal inwoners inspireer sodat vrywilligers ook na vore sal tree om leiding te neem by die ander dorpsingange.”