’n Nuwe en ook interessante uitdaging!

MaakitMooi-inisiatief maak dorp inderdaad mooi

Appolis Afrika by die ingang na die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek wat tydens die KKNK vanjaar ’n nuwe voorkoms gekry het.                           Foto: Liesel le Roux

Appolis Afrika by die ingang na die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek wat tydens die KKNK vanjaar ’n nuwe voorkoms gekry het. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIT was ’n heeltemal nuwe en baie interessante uitdaging, sê Appollis Afrika, die Oudtshoorniet wat tydens vanjaar se KKNK in beheer was van die finale afronding van die verfprojek by die ingang van die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek op Oudtshoorn.

Inwoners en feesgangers het tydens die KKNK begin verf aan die projek as deel van ABSA se MaakitMooi-inisiatief.
Afrika sê deur sy samewerking met die plaaslike kunstenaar Madeleine Miles en haar betrokkenheid jaarliks by die kKNK het hy verskeie nuwe vaardighede geleer.

“Ek was eers ’n huisverwerwer en het saam met Madeleine aan van haar projekte begin werk,” vertel Afrika.

Hy sê hy het op skool sy vaardighede met verf aangeleer.

Hy sê toe hy hoor dat die ingang na die biblioteek een van die projekte op vanjaar se KKNK-spyskaart is, was hy dadelik vuur en vlam vir dié nuwe uitdaging.

Hy was tydens die fees in beheer van dié projek se finale afronding waar hy ook tydens die verwery  opleiding gegee het aan jong verwers van Bridgton en so sy vaardighede oorgedra het.

“Ek het kans gesien daarvoor en kan vandag sê dit was ’n baie interessante ervaring vir my.”

Volgens Miles is Afrika se sterk punte sy vaar­digheid met die kwas, sy gewilligheid en begeerte om te leer, maar ook die feit dat hy altyd gewillig is om op kort kennisgewing te help, bereid is om lang ure te werk en haar nooit in die steek laat nie.

“Met die KKNK is daar dikwels dinge wat onverwags opduik en dan weet ek al ek kan op Appollis staat maak,” sê sy.

“Ons is ook baie dankbaar teenoor die KKNK en Absa, want hulle projekte gee my ook die kans om vaardighede aan ander te leer soos aan Appollis, en hy dra dit weer op sy beurt oor aan ander mense.

“Dit stel my ook in staat om vir drie maande van die jaar  werk te verskaf aan plaaslike mense.”