Loslitdag met optog en vrolikheid op Oudtshoorn gevier

Die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) se kleurvolle optog deur Oudtshoorn se strate het verlede Vrydag (6 September) baie aandag getrek en harte geraak.  Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
Die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) het op 6 September 2019 ’n kleurvolle optog deur die strate van Oudtshoorn gehou as deel van Loslitdagvieringe wat ook as ’n bewusmakingsveldtog gedien het.

Vanjaar se tema was Time to Shine.

Verskeie organsasies wat fokus op persone met gestremdhede asook lede van die gemeenskap het aan die optog wat by die Eljada-jeugsentrum in Baron van Reedestraat begin het, deelgeneem.

Monique Malan het die week namens die APD haar dank uitgespreek teenoor almal wat in die koop van ‘n Loslitdagplakker belê het en so ook in die lewe van ‘n persoon met ‘n gestremdheid.

Sy verduidelik dat indien ’n plakker direk by die organisasie gekoop word R4 van die R10 wat dit kos, in die dorp bly.

Volgens haar word dit dan aan­gewend vir persone met gestremdhede in Oudtshoorn en die landelike gebiede in die distrik.

Die vereniging se kantore is geleë te Asstraat 46A, Bridgton (tel 044 272 2106), en die beskermde werkswinkel en dagsorgsentrum in die GG-kamp (tel 044 279 1559).