Inwoners maak harte oop met skenkings

Tuinroete-brande

Deur Liesel le Roux
TEEN Maandag het Oudtshoorn seker al R2 miljoen se skenkings na die brandslagoffers in die Tuinroete gestuur, sê Niel Els, mede-eienaar en bestuur­der van die Turnberry Boutique Hotel op die dorp en president van Skål International Suid-Afrika.

Turnberry is ’n afsetpunt op Oudtshoorn waarvandaan daagliks voertuie met skenkings van inwoners na die Tuinroete vertrek.

Els het namens Skål betrokke geraak by insamelings op die dorp toe hy met ’n besoek aan Knysna besef het hoe belangrik dit is dat skenkings verantwoordelik en betroubaar hanteer moet word sodat dit na diegene in nood gaan.

“Ek het ook betrokke geraak omdat die toerismebedryf wat die Tuinroete en Klein Karoo se grootste inkomstegenereerder is, groot skade gely het as gevolg van die brande. Dit het reeds tot kanselasies, ook in die Klein Karoo, gelei deur plaaslike en buitelandse besoekers. Mense beskou die Tuinroete en Klein Karoo as een gebied.”

Els sê Turnberry het genoeg ruimte om sken­kings veilig te berg en te katologiseer voordat dit deurgestuur word. Die Lions-klub van Sedgefield hanteer dié uitreikveldtog vanaf Oudtshoorn.
“Die mense van Oudtshoorn is ongelooflik,” sê Els. Volgens hom kom skenkings van die hele gemeenskap – oud en jonk, individue, skole, organi­sasies en besighede. Van die inwoners bied voertuie aan vir die vervoer van die skenkings, terwyl ander daar gaan hand bysit.

“Omdat daar nie krag in baie gebiede is nie, is kerse, gasbottels, gastoestelle en sonkraglampe nou van die grootste behoeftes. Kontant is ook nou nodig vir spesifieke behoeftes vir vrywillligers en inwoners.”
Van die eerste skenkings uit Oudtshoorn was 800 varsgebakte brode wat Die Vryburgers en Camp

Bakery geskenk het, ’n skenking van die Oudtshoorn Rotariërs van 28 sakke klere, 1000 bottels water, koffie, suiker, melk en hondekos, en ’n skenking van 500 kg volstruisvleis van die Klein Karoo Groep.