Die Goue Swane Dagsorgsentrum se bestuurslede is van links Elvera Claassen (maatskaplike werker), Jakob Koeries (voorsitter), Sannie Mathys (ondervoorsitter), Willie Arnoldus (programkoördineerder), Fiela Fortrum (kassier) en Sophie le Roux (addisionele lid).
Deur Wyndham Ewerts
DIE Goue Swane Dagsorgsentrum wat beoog om binnekort sy deure in Bridgton te open, gaan fokus op die welsyn van die ouer garde in die gemeenskap.
Dié dagsorgsentrum sal geleë wees by die KPO-gebou in Bridgton wat tans gebruik word deur die Suid- Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU). Die dagsorgsentrum is lid van die Klein Karoo Forum vir Ouer Persone met die hoofliggaam die Wes-Kaapse Forum vir Ouer Persone.
Volgens Willie Arnoldus, projekkoördineerder van die dagsorgsentrum, het die Goue Swane ’n behoefte raakgesien om die gemeenskap se ouer garde daagliks met aktiwitweite, liggaamsoefening, ondersteuningsgroepe en mentorskap produktief te stimuleer en ondersteun.
“Daar is ook groot planne om die opwindende Bridging the Gap-program aan te bied wat integrasie met die jeug aanmoedig,” sê Arnoldus.
Die Goue Swane funksioneer tans slegs Dinsdae en Donderdae vanuit die Patatskool (UCC skool) en bied van 10:00 tot 14:00 versnaperinge vir senior burgers. Dit word gefinansier deur maandelikse ledegeld.
Die Goue Swane bedien tans die Bridgton- en Toekomrus-gemeenskap.
Arnoldus het namens die dagsorgsentrum die Oudtshoorn Munisipaliteit en Pat Blaauw (verantwoordelik vir spesiale programme by die munisipaliteit) vir hul ondersteuning bedank.