Gesondheidstrein einde Augustus op Oudtshoorn

4 Gesondheidstrein

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Transnet-Phelophepa-gesondheid­sorgtrein sal einde Augustus en vroeg in September weer Oudtshoorn besoek.

Dié trein – die wêreld se eerste primêre gesondheidshospitaal op wiele – bring gesondheid en hoop na dui­­s­ende landelike Suid-Afrikaners wat toegang tot gesondheidsorgfasiliteite benodig. Die naam “Phelophepa” beteken “goeie, skoon gesondheid” in Sotho en Tswana en hierdie trein met sy 19 waens en 20 personeellede bied gesondheidsorg en het die nuutste mediese toerusting aan boord.

Die eerste Phelophepa gesondheids­trein het in 1994 tussen dorpe in Suid-Afrika begin loop en het groot groei getoon van die eerste driewa-oogkli­niek.

Deesdae spog die trein met volledig toegeruste waens met gesondheidsorg wat die volgende insluit: ’n oogkliniek vir gratis oogtoetse, bril (R30) en oogdruppels (R5); ’n tandheelkundekli­-niek vir ’n gratis ondersoek en inligting asook die trek, vul en skoonmaak van tande (R10 per prosedure); ’n gratis begeleidings-/sielkundige afdeling wat individue en groepe bystaan om stres en emosionele probleme te hanteer; ’n gratis kanker- en diabetes-afdeling wat diabetes- toetse, papsmere, prostaat- en borstoetse doen. Medisyne kos R5.

Die trein sal van 28 Augustus tot 1 September en weer van 4 tot 8 September 2017 op die stasie staan. Neem asb u kliniekkaart saam.