Vertel vir ons ’n storie!

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Hoe gereeld hoor jy jou kinders sê: “Vertel vir ons ’n storie, asseblief?”
As jy gelukkig genoeg was om groot te word met grootmense wat vir jou stories vertel, sal jy waarskynlik onthou hoe dit voel om heeltemal meegesleur te word deur ’n storie – dit is asof alles om jou verdwyn en jy deel word van die storie!

Kinders is mal daaroor om stories te hoor en dit is ’n wonderlike manier om hulle verbeelding en hulle taalgebruik te stimuleer. Hier volg ’n paar wenke om jou te help om ’n towerverteller van stories vir jou kinders te wees.

• Kom aan die gang. Dit is altyd die maklikste om te begin met wat jy ken; begin dus deur stories wat jy goed ken te vertel.

• Vind nog stories.Vertel meer en meer stories deur nuwe stories te vind. Kyk in boeke en op die Internet. Vertaal stories wat slegs in een taal beskikbaar is in die taal/tale waarin jy gemaklik stories vertel.

• Pas die storie by jou gehoor. Kies ’n storie waarin jy dink jou luisteraars sal belangstel en wat by hulle ouderdomme pas. Die meeste kinders geniet byvoorbeeld stories met diere in, maar stories met bose geeste kan baie jong kinders bang maak.

• Kies jou woorde. Probeer interessante en beeldende woorde gebruik wat jou luisteraars help om ’n prentjie in hulle koppe te vorm terwyl hulle na die storie luister.

• Gebruik gevoel. Vertel die storie met gevoel in jou stem en gee vir die karakters stemme wat verskillend klink, soos ’n piepstemmetjie vir ’n klein muisie en ’n diep, bulderende stem vir ’n leeu.

• Gebruik jou hele liggaam. Gebruik jou gesig om die uitdrukkings van verskillende karakters in die storie te wys. Frons byvoorbeeld wanneer ’n karakter skree en kwaad is oor iets. Gebruik liggaamsgebare, soos om liggies van kant tot kant te wieg om te wys hoe ’n boom in die sagte bries beweeg, en gebruik dan groter bewegings om te wys hoe dit beweeg wanneer die wind sterker waai.

• Oefen. As jy ’n storie vir ’n groep kinders gaan vertel, oefen dan vooraf sodat jy die storie baie goed ken.

• Geniet dit. As jy dit geniet om ’n storie te vertel, sal jou kinders waar­skynlik ook daarvan hou om daarna te luister! Ontspan en geniet dit!

Vir meer inligting oor lees saam met jou kinders, besoek “Tips and Topics” by www.nalibali.org of www.nalibali. mobi.

• Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur die Nal’ibali-lees-vir-plesier-program.

Vir meer wenke oor lees, leesaktiwiteite of stories om saam met jou kinders te geniet in ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse tale, besoek: www. nalibali.org en www.nalibli.mobi, of vind dit op Facebook en Twitter: @nalibaliSA. Nal’ibali ondersteun die Oudtshoorn Lighuis-leesklub. Maak kontak met hulle by https://www.facebook.com/ OudtshoornLighuis/

4 dadoncouch.tif