
DIE gemeenskapsbeweging “Oudtshoorn Community Against Crime” (OCAC) het Sondag 7 Mei ’n samekoms in die Lane-omgewing van Bridgton, naby die Bridgton Sportgronde, gehou om hul toewyding aan die beveiliging van hul gemeenskap te wys.
Leon Campher, raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit en gemeenskapsaktivis vertel die beweging het ontstaan uit die dood van geliefde Bridgton rugbyspeler, Boutros May. Sedert May se sinnelose moord is daar ’n reeks moorde tussen hierdie gemeenskap en dié van Dysselsdorp gepleeg. Volgens Campher het die gemeenskap nou genoeg gehad. Campher sê dat dit slegs deur die gemeenskap se samewerking met die polisie en ook selfbeheersing gaan verander. “Hierdie moorde moet stopgesit word!
Vir ’n plek soos Oudtshoorn en Dysselsdorp is hierdie tipe geweld teen mekaar te veel. Dit moet end kry!”, het hy passievol aan die skare inwoners vertel.
’n Memorandum is ook die dag aan die Oudtshoorn Polisie oorhandig wat OCAC se onderne-ming om saam met die polise te werk bevestig het. (Deur Stefan Skapie Goosen)