David Piedt. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
OPLEIDING, en die positiewe gevolge wat dit op mense en ’n dorp soos Oudtshoorn kan hê, lê dr David Piedt (79) baie na aan die hart.
Dit is wat Piedt, ’n oud-onderwysman en oud-voorsitter van die KKNK, al langer as ’n dekade dryf om ten spyte van verskeie terugslae en ’n gebrek aan steun, voort te gaan.
“As ons dit regkry om iets hier te vestig, dan sal ek tevrede sterwe,” sê hy in ’n gesprek met Die Hoorn.
Dit was ook sy boodskap aan sakelui van Oudtshoorn toe hy by ’n onlangse Netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer sakelui ingelig het oor verskeie onderwysinisiatiewe waaraan tans deur Oudtshoorniete gewerk word.
’n Onderwyskollege vir Oudtshoorn
Piedt werk al sedert 2008 saam met twee ander oud-onderwysmense, Lionel Tait wat rektor was van die van die Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) en Tommy Johnson, aan die ideaal om weer ’n onderwyskollege op Oudtshoorn te vestig.
In 2008 het hulle ’n werksdokument saamgestel wat hulle aan die direkteur-generaal van basiese onderwys, die minister van basiese onderwys, die direkteur van hoër onderwys en die minister van hoër onderwys gestuur het. Hul harde werk is slegs met ’n dawerende stilte beantwoord.
“Tot vandag toe het ons nie eens ’n ontvangserkenning van enigiemand gekry nie,” vertel Piedt. Hy sê die regering het intussen vier onderwyskolleges vir die land geoormerk, maar dat die Wes-Kaap nie een van die provinsies in die prentjie is nie.
Hierdeur het hy hom egter nie laat afsit nie.
Toe die regeringstrukture nie wou luister nie, het Piedt-hulle in gesprek getree met Unisa, en hier ’n deurbraak gemaak. Die opleiding van studente vanuit Oudtshoorn (35), Beaufort-Wes (15), George (30) en Mosselbaai (30) as grondslagfase-onderwysers by die kampusse van die Suid-Kaap Kollege het in Februarie 2018 afgeskop. Vanjaar het nog 200 gekeurde onderwysstudente by die kampusse begin studeer.
Daar word beoog om oor twee of drie jaar ook studente in die intermediêre fase te begin oplei.
Volgens Piedt is die volgende stap om as gevolg van die groeiende getalle elke jaar ’n plek op Oudtshoorn te kry of te vestig met lesingkamers en akkommodasie vir studente. Gesprekke in dié verband is aan die gang en byvoorbeeld al met die Katolieke Skool in St Saviourstraat gevoer.
Ander opleidingstrukture
Intussen het Piedt verlede jaar ook betrokke geraak by ’n inisiatief van die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, waar die munisipalieit saam met lede van die gemeenskap Oudtshoorn as ’n onderwys- en opleidingsentrum wil uitbou.
’n Komitee van vrywilligers uit die gemeenskap skenk tans aandag hieraan.
Piedt sê uit sy skakeling met die Universiteit van Stellenbosch (US) is dit duidelik dat hulle gretig is om inisiatiewe hier te ondersteun. Ook ander belegggers, selfs uit die buiteland, stel in projekte hier belang.
Volgens hom word daar veel wyer as oor net onderwysopleiding gedroom en gewerk.
Daar is werkskomitees gestig vir onderwys en opleiding; investering in Oudtshoorn; sport en ontspanning; kuns en kultuur; en landbou en grondhervorming.
Hy sê daar word gekyk na moontlike landbou-opleiding, en ook na ’n buitelandse inisiatief wat drie teologiese kolleges in Afrika wil vestig, asook nog vele meer.
“Dié inisiatiewe is tot voordeel van die gemeenskap, maar ons moet onsself vra: Is ons gereed vir hierdie ding en die moontlikhede wat dit bied?”
Piedt sê dit is ook vrae wat die Besigheidskamer en die gemeenskap hulle moet afvra.
Hy self glo passievol dat geleenthede vir jongmense geskep moet word en dat hulle bygestaan moet word om te kan studeer.
• Lees ook Piedt se brief aan Die Hoorn by https://www.diehoorn.com/mening/briewe-van-lesers-4/