Deur Angelique Erasmus
HULLE wag al agt maande lank dat hul beursgeld deur NSFAS uitbetaal moet word, het ongelukkige studente van die Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn verlede Donderdag aan Die Hoorn gesê nadat hulle in die straat buite met ’n protesaksie begin het.
Vullisdromme op die perseel is terseldertyd uitgegooi, met die gange binne die gebou en voorportaal wat besaai was met rommel.
Van die protesterende studente het ook oor die gehalte van die kos by die koshuis en die badkamergeriewe gekla. Van hulle beweer hulle word siek weens die onhigiëniese toestande, en moet hul dan in lang rye by klinieke gaan sit en klas mis.
Die lektore is almal binne die gebou gehou vir hul eie veiligheid.
Volgens Thabisa le Fleur, die kollegehoof op Oudtshoorn, het die studente nie protokol gevolg en eers hul griewe op skrif gestel nie, en met ’n onbeskermde betoging voortgegaan.
Sy het hulle probeer toespreek, maar hulle wou nie luister nie. Sy kon egter later met die studente praat nadat die polisie ingegryp het.
Le Fleur sê baie studente het onvolledige dokumentasie met hul aansoeke vir NSFAS-beurse ingehandig. “Slegs 77 van die studente kwalifiseer tans vir ’n NSFAS-beurs.”
Elsie Harmse, prinsipaal van die Suid-Kaap Kollege, sê die eerste betalings is reeds vanjaar aan kwalifiserende studente gemaak. Die tweede betaling in Maart sal slegs aan studente gedoen word wat goedgekeur is deur NSFAS en wat alle dokumente verskaf het. Sy het ’n dringende beroep op studente gedoen om die nodige dokumente in te dien.
Een van die studente en tesourier van die studenteraad, Juan-Mari Stassen, het aan Die Hoorn gesê dat daar wel ’n probleem met die koshuis se kos was, maar dat dit intussen aangespreek is.
Om die studente te beveilig is ook stappe gedoen deur nuwe heinings op te rig en toegangsbeheer met studentekaarte in te stel.