Ses jaar vir roof en ernstige aanranding

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Prins Albert wat van poging tot roof en ernstige aanranding skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof ses jaar gevangenisstraf opgelê.

Rowan Alexander (21) het op 1 Februarie 2017 ’n 44-jarige man, Jan Stalmeester, aangerand en probeer om ’n koeldrank van hom te roof omdat Stalmeester glo vir hom en sy ma uitgeskel het.

Hy het Stalmeester met ’n skerp voorwerp agter die kop en in die nek gesteek.

Alexander het onskuldig gepleit.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het betoog dat Alexander, wat nie ’n eerste oortreder is, nie geleer het uit vorige vonnisse nie en ’n geneigdheid toon om mense aan te rand.

“Dit is in openbare belang dat die beskuldigde behoorlik gestraf word sodat almal kan sien. Dit was onnodig en sinneloos om ’n groot man so aan te rand en probeer beroof. Hy het ook die hof probeer mislei en die hof se waardevolle tyd gemors,” het Goulding gesê.

’n Versoek van Alexander se regshulpprokureur, Brian Carelse, dat die vonnis saam met ’n vonnis vir aanranding om ernstig te beseer wat hy tans uitdien, moet loop, sal volgens Goulding ’n verkeerde boodskap uitstuur.

Streeklanddros Retha Pretorius het met vonnis­op­legging gesê Alexander is aan ernstige misdry­we skuldig bevind. Verswarend is die feit dat hy relevante vorige veroordelings het en ’n man met ’n skerp voorwerp gesteek het. Ter versagting het die hof in ag geneem dat hy nog jonk en rehabiliteerbaar is.

Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.