Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Dysselsdorp wat ’n 15-jarige meisie verkrag het, is in die streekhof op Oudtshoorn tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 25-jarige Cedric Stuurman het onskuldig gepleit en ontken dat hy op 12 Maart 2018 die klaagster verkrag het. Sy getuienis is egter deur streeklanddros Daniel Boks verwerp as vals en leuenagtig.
Die hof het wel bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe lewenslange gevangenisstraf vir die verkragting van ’n persoon onder 16 jaar.
Stuurman is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom en die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.