Food Forward SA help met kosverspreiding hier

Donasies aan geregistreerde nie-winsgewende organisasies op Oudtshoorn is verlede Donderdag te midde van groot blydskap die eerste keer deur Food Forward SA op Oudts­hoorn oorhandig. Foto's: Stefan Goosen

VOEDSELVERSPREIDING in die Groter Oudts­hoorn deur nie-winsgewende organisasies wat die gemeenskap met kos ondersteun, het Donderdag, 30 September, ’n hupstoot gekry toe Food Forward SA in dié Klein Karoo-dorp geloods is.

Food Forward SA is ’n nasionale voedselverspreidingsorganisasie wat donasies van kos – vars en verpak – by groot kettingwinkels kry en dit maandeliks versprei na organisasies, sopkombuise en kerke wat in gemeenskappe werk waar die voedselnood die grootste is.

Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, is ook die direksievoorsitter van Food Forward SA se direksie, en was Donderdag op Oudtshoorn vir die loodsing van die program by die Evangeliese Lutherse Kerk op die hoek van Zebra- en Springbokweg in Bridgton.

Volgens Sonn is die organisasie reeds die afgelope 16 jaar nasionaal werksaam en voed hulle tans meer as 700 000 mense landwyd. Hy sê minstens 18 geregistreerde organisasies in die Groter Oudtshoorn is reeds by Food Forward SA geregistreer.

“Ons hoop om uiteindelik baie meer organisasies hier te ondersteun,” het Sonn gesê.

Organisasies wat geregistreer was, het met die loodsing voedsel ontvang vir verspreiding, terwyl ander organisasies met registrasie bygestaan is.

Organisasies wat graag by die program wil baat, is met die loodsing genooi om te registreer. Daar is ’n klein lidmaatskapfooi betaalbaar. Die voedsel word egter gratis verskaf.

Volgens Zanele Stimela, ontwikkelingsbestuurder van Food Forward South Africa in die Wes-Kaap, moet organisasies aan sekere regulasies en vereistes voldoen om te kan registreer en te verseker dat voedseldonasies reg aangewend word in gemeenskappe.

Sy sê inspeksies word ook gereeld gedoen om geregistreerde organisasies op hul tone te hou.

Amptelike, geregistreerde nie-winsgewende organisasies kan registreer by foodforwardsa.org. (Deur Stefan Skapie Goosen)