Piet Cordier, Prins Albert se bekendste entrepreneur, vertel openhartig hoedat sy werkloosheid deesdae hom vir die eerste keer in sy lewe soos ‘n gestremde laat voel. Dit terwyl Piet sy oë as baba en sy bene as tiener verloor het. Deesdae sit hy dikwels hier in sy rolstoel onder ’n boom in die hoofstraat, byna regoor die eertydse Lekkerbek Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
VAN kleins af, toe hy eers sy oë en later sy bene verloor het, was Piet Cordier van Prins Albert altyd in ’n geveg met die lewe geknoop om homself te handhaaf, om vir sy eie welsyn verantwoordelik te wees en om nooit vir ander ’n las te wees nie. Hierin het hy meesterlik geslaag.
Hy het met sy regterhand, Leonora, getrou, twee slim dogters grootgemaak, en sy eie werk en loopbaan uitgekerf – as entrepreneur, klavierstemmer en musikant. Vir die dorp en omgewing waarin hy woon en gewerk het, het hy ’n vriend, staatmaker en vertroueling geword. Sy winkel was ’n bekende baken. Sy mensekennis is insiggewend, en sy vriendelikheid en blymoedigheid ’n voorbeeld.
Tot onlangs, “Toe ek my winkeltjie, Lekkerbek, in Prins Albert se hoofstraat, moes prysgee.”
Met strawwe mededinging rondom hom, het sy onderneming uit sy ferm hand begin glip en was sy wins nie meer genoeg om Lekkerbek aan die gang te hou nie. Dit terwyl dié winkel altyd die plek was waar dorpenaars ingeglip het vir ’n koerant, lekkerny of Leonora se lewerkoekies.
Deesdae sien jy Piet soms in sy rolstoel onder ’n boom in die hoofstraat sit, byna regoor die eertydse Lekkerbek. Langs hom staan twee koelsakke met die laaste onverkoopte voorraad. Dis die eerste keer in sy lewe, vertel hy, “dat ek soos ’n gestremde voel”. Sy gebrek aan sig en die vermoë om self te loop waarheen hy wil, het hy oorkom. Hy was selfs een van die hoofvertellers en “akteurs” in die film Eerstewater, vervaardig deur mede-Prins Alberter Hélène Smit. “Ek wil graag weer iets doen, ek móét iets doen, maar ek weet nie wat nie. Ek is nog lank nie reg om hande gevou te sit nie. Daar’s baie dae dat ek nutteloos, waardeloos, hopeloos en moedeloos voel.”
Piet vertel sy onderneming se boeke het geklop toe Lekkerbek nog bo in die hoofstraat, aan die Swartberg-kant, was. “Daar was nie mededinging nie. Mense het laataand inge- hardloop vir ’n koeldrank of hout of so iets. Toe ek uitgeskuif is, byna ’n kilometer laer af in die hoofstraat, het dinge agteruit begin gaan. My mededingers is net eenvoudig te sterk.”
Piet se aangrypende vertelling en kitaarspel en sang in Eerstewater laat ’n mens doodstil in jou stoel sit. Hy sê: “Ek hoop maar Hélène is gelukkig daarmee. Dit voel so of ek nie daar hoort nie. Dit was goed om oor my lewe te kon praat, maar ek dink jou lewe het net regtig sin as jy iets vir ander beteken. Noudat ek nie werk nie, voel ek oorbodig, ’n las vir die samelewing. Nou klink dit weer of ek myself bejammer…”
Piet sê hy het sy kinders nooit grootgemaak as “gestremde” nie, net as ’n doodgewone pa. “Daarom dink ek hulle ver- staan dalk nie hoe die werkloosheid my affekteer nie. Dít maak my voel soos ’n gestremde. Tog, dis wonderlik om te ervaar hoe hulle probeer help.”
Dalk moet hy eendag sy verhaal skryf, vertel hy. Daar is mense wat hom aanmoedig om dit te doen. “As kind was die reuk van ’n vars koerant iets heerlik. Ook die reuk van boeke. Ek het eenkeer met my sakgeld ’n koerant gekoop net om daaraan te ruik, soos parfuum. Ek het boeke gekoop, miskien met die heimlike hoop om dit eendag te kan lees.”
Hy kry soms oudioboeke by Bandhulp vir Blindes, “maar die nadeel is dat ’n mens nie so gou by nuwe boeke kan uitkom nie. Om boeke oor te klank, is duur en neem tyd. Bandhulp doen reuse-werk.”
Hy het tóg ’n droom, verklap Piet. “As ek net my negatiwiteit kan afskud, sou ek my wou toespits om geld in te samel om nuwe publikasies gouer oorgeklank te kry…”