Lizel en Constant de Waal van Oudtshoorn wat onlangs ’n groot gedeelte van die Franse Camino gestap het. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
DIE Camino is ’n geestelike pelgrimstog en dit was die rede waarom sy en haar man, Constant, dit van einde Maart tot vroeg in April gaan stap het, vertel Lizel de Waal van Oudtshoorn.
“Ons het so baie om voor dankbaar te wees en ons wou dit uit dankbaarheid doen,” sê sy.
Dié pelgrimstog oor 780 km is volgens oorlewering in die Bybelse tyd deur die Apostel Jakobus gestap terwyl hy die Woord van God verkondig het. Die Camino word oor ’n tydperk van 33 dae gestap, ’n dag vir elke jaar wat Jesus op aarde was. Die beginpunt is St Jean Pied de Port in die Pireneë in Frankryk met die eindpunt Santiago de Compostela
Die De Waals het in Lèon in Spanje begin stap tot by Santiago de Composela, ’n afstand van 324 km wat hulle 12 dae geneem het.
Die hele ervaring was onvergeetlik, sê Lizel.
“Ons was deur sneeu vasgekeer in ’n Middeleeuse dorpie, Foncebedon. Ons kon nie terug na die vorige dorp of ’n taxi kry na die volgende dorp nie… Toe stap ons deur dik-dik sneeu. In daardie stadium was Constant se voete vol blase.
“Ons het nie besef dat hierdie sneeu ook ’n geestelike ervaring was nie… Alles is wit gewas vir ons sonde en die sagte, dik sneeu onder Constant se voete was die uitkoms vir hom omdat hy andersins nie die impak op sy voete sou kon hanteer nie. Ons het baie gehuil… want dis mooi en die genade is groot.”