Oudtshoorn Kunstevriende

Bo: Dennis Bishop, Estelle Swanepoel, Duckie Goosen en Brenda van der Walt kuier saam by die bekendstellingsaand van Oudtshoorn Kunstevriende.
Onder: Marinda Bothma Schutte, begelei deur Erina Terblanche.
Foto’s: Angelique Erasmus


Bo: Paul Eilers het teenwoordiges vasgenael gehou met sy voorlesings.
Deur Liesel le Roux
“ONS verwagtinge is oortref,” sê Antoinette le Roux, een van die Oudtshoorniete agter die nuwe Oudtshoorn Kunstevriende wat verlede Woensdagaand hul eerste byeenkoms in die Oudtshoorn Ostrich Emporium gehou het.
Volgens Le Roux het sowat 100 Oudtshoorniete die aand bygewoon en gesellig saamgekuier.
“Ons het net weer besef daar is regtig ’n behoefte vir so ’n kultuurorganisasie op Oudtshoorn.”
Le Roux sê die gehoor het groot waardering gehad vir die drie voortreflike plaaslike kunstenaars – Paul Eilers se uitstekende voorlesings en die besonderse sang van Marinda Bothma Schutte wat deur Erina Terblanche begelei is.
Oudtshoorn Kunstevriende wil die leemte op Oudtshoorn vul wat ontstaan het nadat die Oudtshoorn Musiekvereniging van die toneel verdwyn het. Volgens Le Roux wil die organisasie egter nie net klassieke musiek na Oudtshoorn bring nie, maar ook ander musiekgenres, en dit kombineer met byvoorbeeld ’n kunsuitstalling of ’n wynproegeleentheid of digkuns.
Sy het Oudtshoorniete genooi om met haar per e-pos kontak te maak by tonie1@telkomsa.net