Welkom Kunstevriende!

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Die groepie Oudtshoorniete betrokke by die inisiatief om Oudtshoorn Kuns­tevriende, ’n nuwe liggaam op die dorp, van die grond af te kry, verdien almal ’n klop op die skouer.

Die geesdrif waarmee dié inisiatief verlede Woensdagaand by die Klein Karoo Ostrich Emporium afgeskop het, is aanduidend van die behoefte op die dorp vir sulke byeenkomste.

Die Oudtshoorn Musiekvereniging onder die leiding van Nic Barrow het ’n aantal jare gelede ’n groot rol gespeel om kunstenaars van hoog­staande kaliber na die dorp te bring. So iets geskied egter nie sommer van­self nie, en ongelukkig het die vereniging nadat die KKNK dit oorgeneem het, die laaste jaar of twee van die toneel verdwyn.

Op geesdrif alleen kan geen vereniging egter voortbestaan nie.

Een van die struikelblokke om kunstenaars op ’n dorp te kry en sulke geleenthede volhoubaar aan te bied, is uit die aard van die saak geld.

Daar kan nie verwag word dat kuns­tenaars gratis na Oudtshoornmoet reis en gratis moet optree nie.

Oudtshoorniete sal moet saamstaan en saamdink en saamwerk om Oudtshoorn Kunstevriende te help om lewensvatbaar te bly.

En dit is moontlik.

Want hoewel geesdrif alleen nie ’n vereniging kan laat voortbestaan nie, is dit ’n noodsaaklike bestanddeel. Geesdrif is boonop aansteeklik en dikwels die vonk vir kreatiewe denke.

Welgedaan, Antoinette le Roux, Annelise Schutte-Vlok en almal betrokke by Oudtshoorn Kuns­tevrien­de. Die Hoorn is bly en opgewonde dat daar weer so ’n kultuurorgani­sasie op die dorp is. En soos met die Musiekvereniging, kan julle verseker wees van ons steun.