Crazy for Walking wil help met geestesgesondheid en stigmas

Deon Labuschagne (links) en dr Colin Finucane wys hul sokkies vir die nasionale Mal Sokkiedag wat op 10 Oktober gevier word. Dié sokkies kan ook by hulle bestel word. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deon Labuschagne (links) en dr Colin Finucane wys hul sokkies vir die nasionale Mal Sokkiedag wat op 10 Oktober gevier word. Dié sokkies kan ook by hulle bestel word.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Crazy for Walking-inisiatief van Happiness Helps en die Vista Clinic in Gauteng – een van die grootste psigiatriese hospitale in Suid-Afrika – het Oudts­hoorn Woensdag besoek en ’n praatjie oor geestelike gesondheid by die Caves Aftreeoord gelewer.

Hierdie inisiatief het ontstaan met die doel om die stigma rondom geestelike gesondheid af te breek en vir mense te wys dat daar wel hulp is vir depressie, bipolêre depressie en angs.

Dr Colin Finucane (pastorale berader) en Deon Labuschagne (Happiness Helps- ambassadeur) het wenke gegee oor gees­telike en emosionele gesondheid.
Finucane sê Happiness Helps bied vyf stappe wat ’n mens kan toepas om gesond te bly.

“Daar is hulp daarbuite en die stigma van geestesgesondheid moet geheel en al geskrap word sodat mense vry sal voel om hulp te soek,” sê Finucane

Die woord “Helps” van Happiness Helps is ’n akroniem vir die vyf stappe wat gevolg kan word om beter geestesgesondheid te ervaar. Hulle verduidelik dit so:

• “H” staan vir “Help ander”. Wanneer jy ander help, voel jy beter oor jouself en die wêreld. In die genesing van ander, genees jy jouself.
Labuschagne, wat met serebrale verlamming gebore is, het verduidelik hoe groot ’n verskil dit in sy lewe maak as iemand aanbied om selfs net sy koppie koffie te dra omdat hy dit self nie kan doen nie. Begin klein. Deur ander te help, verskuif jy die fokus van jou eie probleme na iets positiefs en dit kan jou selfs help om vinniger ’n oplossing vir jou probleme te kry.

• “E” staan vir “Exercise” (oefening). Baie mense glo dat oefening net ’n fisieke ding is, maar dit is nie. Fisieke oefening is belangrik omdat dit toelaat dat die regte goedvoel-endorfiene in jou liggaam vrygestel word. Dit kan op ander aspekte van jou lewe toegepas word: in plaas daarvan om ’n SMS of e-pos te stuur, oefen om van aangesig tot aangesig met iemand te praat. Oefening verlaag voorts die liggaam se angsvlakke.

• “L” staan vir “Learn something new every day” (leer iets nuuts elke dag). Dit is belangrik om elke dag iets nuuts te leer omdat dit die brein aktief hou.
’n Positiewe verstand bevorder ’n positiewe bui. Stimuleer jou brein met aktiwiteite soos Soduko of woordlegkaarte – leer selfs ’n nuwe woord of skep jou eie tuin.

• “P” staan vir “Play” (speel). Ons moet tyd maak om te speel en te lag om sodoende gebalanseerde lewens te lei. Maak alledaagse aktiwiteite ’n speletjie – soos om byvoorbeeld jou vullisdrom as ’n basketbalnet te gebruik. Luister musiek, sing of dans – daar is baie moontlikhede.

• “S” staan vir “Spiritual Growth” (geestelike groei). Bou jou verhouding met die Here. “Met hierdie inisiatief hoop ons om baie mense te help wat dit nodig het,” het Finucane verduidelik. “Geestelike gesondheid is besig om reg­oor die wêreld af te neem en mense moet weet dat daar wel hulp is – solank hulle gehelp wil word.”

Die groep beoog om op Dinsdag, 10 Oktober, in Kaapstad te arriveer en het die dag ook as Nasionale Mal Sokkiesdag gedoop!

Hulle wil mense aanmoedig om sokkies met snaakse patrone te dra om bewustheid te skep vir die veldtog.

Om ’n paar van Crazy for Walking se “mal sokkies” te bestel, kontak die Vista Clinic by jolandi@crazyforwalking.co.za of Denmar by facilities@denmar.co.za.