Besonderse pyporrel in Dysselsdorp ingewy

Die orrelis en koorleier van die Dysselsdorp Congregational Kerk,  Stefanus Marnewick, by die besonderse pyporrel. Foto: Garnett Wicomb

Die orrelis en koorleier van die Dysselsdorp Congregational Kerk, Stefanus Marnewick, by die besonderse pyporrel. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
’N BESONDERSE pyporrel wat volgens sy vorige eienaar as een van Engeland se kultuurerfenisskatte be­skou word, is nou die eiendom van die Dysselsdorp United Congregational Kerk.

Die orrel is Sondag tydens ’n spesiale erediens deur die konsulent van die gemeente, eerw Donald Sweetland van die Parkdene United Congregational Kerk in George, ingeseën. Dié geleentheid word as ’n geskiedkundige mylpaal in die 181-jarige bestaan van die kerk op Dysselsdorp beskou.

Volgens die orrrel se vorige eienaar, dr Ronnie Smith van Durban­ville, wou die Engelse die orrel des­- tyds nadat hy dit gekoop het, nie uit die land laat gaan nie en het dit “baie papierwerk gekos” om dit in Suid- Afrika te kry.

Hy sê daar was destyds ’n kwessie rondom Britse erfenisitems wat verkoop word.
“Vandag is ’n droom wat ’n werklikheid geword het vir die orrelis en koorleier van die gemeente, Stefanus Marnewick, alom bekend as Mees­ter,” het eerw Sweetland Sondagog­gend gese.

Die Outeniqua (UCCSA) streeksekretaris, adv Steven Lourens, het ook die geleentheid bygewoon.
Hy het gemeentelede wat mildelik bygedra het tot die aankoop van die orrel, bedank en dit as ’n “meesterstuk” beskryf.

Volgens Marnewick, orrelis van die kerk sedert 1984 toe hy nog ’n student was, het hy in Julie 2016 op ’n advertensie op Gumtree afgekom oor dié pyporrel.

“Ek het die adverteerder geskakel en hy het aan my inligting verskaf oor die orrel. Ek het dit onder die aandag van die kerkraad gebring aangesien ons ’n begrafnis in die Kaap sou bywoon.”

Hy en Newton Jumaats, hulporre­lis van die kerk, het toestemming by die kerkraad gerkry om die orrel te gaan besigtig. Smith het dit aan hulle in sy huis gedemonstreer.

“Die kerkraad is skriftelik van ons ervaring ingelig en was baie positief,” vertel Marnewick.

Volgens hom is hy in November verlede jaar ingelig dat die orrel egter nie meer geskenk kon word nie.
“Die projek moes egter voortgaan. Fondse is deur kollektelyste en do­nasies uit die gemeente ingevorder en ons kon die orrel koop. Die kerk het ook uit eie sak ’n ruim finansiële bydrae gelewer,” se Marnewick.
Die orrel is in Durbanville deur Daniel en Sebastiaan Pekelharing, twee orrelbouers, uitmekaar gehaal, verpak en na Dysselsdorp gebring. Die orrel het volgens Daniel Pekelharing altesaam 1 058 pype.

Dit het op 17 Maart vanjaar op Dysselsdorp aangekom en is van 3 tot 10 April in die kerk geïnstalleer en gestem.

Die orrel is volgens Marnewick in 1868 deur die Britse orrelbouer van York, Robert Postill, gebou en in die St James Kerk, Westhead in die Engelse dorpie, Ormskirk – naby Lancashire – geïnstalleer. Dit het aan­vanklik meganies gewerk, maar in 1966 is die blaasbalk geëlektrifiseer.

Die buitedeel van die speeltafel is deur Gawie Smith van Parow met eikehout gebou omdat die oorspronk­like deel te verouderd was.

“Die orrel het nog die oorspronklike klawers en registerknoppe van ivoor en die houtwerk op die ou, oorspronklike deel van die speeltafel, is van oreganhout,” vertel Marnewick.

“Die orrel is geskiedenis vir Dysselsdorp, die omgewing en die hele Suid-Kaap.”
• Volgens eerw Sweetland word ’n groot diens met sang en orrelmusiek vir iewers in Augustus beplan waarheen een en almal genooi sal word.