Elke gemeenskap se geskiedenis moet bewaar word

DIE CP Nel Museum op Oudtshoorn het vandees­week ’n projek geloods wat beoog om die huidige volstruisuitstalling in die museum uit te brei, en ook die geskiedenis van elke gemeenskap op Oudtshoorn in te sluit as óf ’n aanvullende, óf ’n nuwe uitstalling.

“Die CP Nel Museum is bedag op die noodsaaklikheid daarvan om leemtes in huidige uitstallings en ander erfenis-uitbeeldings in die museum aan te vul, om sodoende die erfenisuitstallings te transformeer en by te dra tot sosiale samehorigheid en nasiebou,” sê Moses Mthethwa, die museumbe­stuurder,

Die projek, wat deur die Wes-Kaapse departement van kulturele sake en sport (DKSS) befonds word, het op 15 Desember afgeskop en sal tot einde Julie 2021 duur.

Volgens Mthethwa is twee senior navorsers van die DKSS betrokke.
Die projek sal ook tydelike werk skep vir ses plaaslike, werklose jeugdiges, vir ’n tydperk van vier maande.

Die uitbreiding van die volstruisuitstalling in die Volstruissaal sal volgens Mthethwa op ’n inno­verende, kreatiewe en visuele manier gedoen word, en sal ook gemeenskapsbetrokkenheid insluit.

Die nuwe uitstalling, het Mthethwa gesê, sal ’n “inklusiewe plaaslike sosiale geskiedenisverhaal aanbied, met besondere klem op die impak van die gedwonge verskuiwings op Oudtshoorn en in die omstreke.”

Ook hier sal die plaaslike gemeenskap betrokke wees.

Beide die uitbreiding van die volstruisuitstalling en die nuwe uitstalling oor gedwonge verskuiwings sal daarop gemik wees om plaaslike besoe­kers – veral die jeug – en toeriste aan Oudtshoorn in te lig oor die geskiedenis. (Deur Stefan Skapie Goosen)