Die Joodse gemeenskap se rol in die geskiedenis van Oudtshoorn

IN Oudtshoorn se vroeë jare het die dorp ook be­kend gestaan as Klein Jerusalem, met sowat 600 Joodse gesinne wat op die dorp gewoon het. Hoewel daar vandag nog net ’n paar Joodse gesinne op die dorp is, speel dié gemeenskap steeds ’n baie belang­rike rol op Oudtshoorn, onder meer in die sake- en landbousektor.

Verskeie Jode het tydens die opbloei van die volstruisbedryf na Oudtshoorn gestroom – aanvanklik in die middel van die 19de eeu en toe weer vroeg in die 20ste eeu.

Volgens Wikipedia was die eerste groep deel van sir George Grey se immigrasieskema van 1858 tot 1861, toe groot groepe mense van Duitse herkoms hulle aan die Kaap kom vestig het tesame met vaklui van die Britse Eilande.

Die tweede golf was Jode uit veral Litaue en Letland wat wou ontsnap aan die oproep vir militêre diens van jong Jode in die Russiese leër tussen 1881 en 1910 en die Jodehaat in die Russiese ryk wat hul vermoë beperk het om ’n produktiewe lewe te lei.

Teen 1886 was daar sowat 250 Jode in Oudts­hoorn en is besluit om ’n sinagoge te bou, bekend as die Queenstraat Sinagoge.

In dié tyd het daar ook ’n besonderse band tussen die Afrikaners en Jode ontstaan omdat albei groepe diep godsdiens­tig was. Volgens oorlewering het ’n Afri­kaner twee erwe vir die sinagoge geskenk, en ’n

ander die stene bygedra en dit na die perseel laat karwei.

Die argitek George Wallis het die plan geteken met die sinagoge wat in 1888 voltooi is. Rabbi Wolfson was die eerste rabbi by dié sinagoge op Oudtshoorn, waar hy die gemeenskap langer as ’n halfeeu sou dien.

’n Tweede sinagoge wat 1892 in St Johnstraat gebou is, is in 1973 gesluit. Die sinagoge wat ge­bou is deur die ortodokse Jode van Kelme, het die bynaam “Griener Shul” gehad, en in die bouwerk daarvan is gestreef om die atmosfeer van hul tuisdorpsinagoge in die Karoo te herskep. Die gevolg was ’n replika van ’n Litause sinagoge versier met tradisionele Joodse kunsvlyt, silwerwerk en naaldwerk. Nadat sluiting van die sinagoge, is die inhoud, waaronder die ark met sy uiekoepel – wat gemodelleer is op die ark in die sinagoge in Kelme, na die CP Nel Museum op die dorp verskuif waar dit steeds te sien is.

Oor die jare het die Joodse gemeenskap aktief aan dorpsaktiwiteite deelgeneem. In ’n stadium was die burgemeester en twee raads­lede, die distriksgeneesheer, die mediese beampte en ’n lid van die munisipale skoolraad Joods.

Die Joodse bevolking wat saam met die volstruisbedryf gegroei het en in 1914 op 600 gesinne gestaan het, het begin krimp na die ineenstorting van die bedryf met baie sakeondernemings wat ondergegaan het en mense wat na die stede verhuis het.
(Bron: Wikipedia)