Boomplaas se grot vertel eeue se geskiedenis

Die historiese opstal op die plaas Boomplaas aan die voet van die Swartberge buite Oudts­hoorn. Dié opstal wat uit 1810 dateer, was een van ’n reeks interessante historiese besoekpunte in die Schoemanshoek- en Kango Grotte-omgewing wat op 25 Mei deur ’n groot groep belangstellendes vanuit Prins Albert en die Suid-Kaap besoek is as deel van ’n daguit­stappie deur die Stigting Simon van der Stel en die Prince Albert Cultural Foundation. Die uitstappie het ook besoeke aan die Kango Grotte, Grootkraal, Ouewerf asook die gebou waarin ’n ou tabakfabriek in Schoemanshoek geleë was.

Johan Smit, argitek van Oudtshoorn, praat oor die beplande restourasie van die Boomplaas-opstal, en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Smit het gesê dit is byvoorbeeld deesdae nie meer maklik om vakmanne te kry wat oor die vaardighede beskik wat eeue gelede gebruik is wanneer huise gebou is nie.  Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE fasssinerende verhaal wat die Boomplaas-grot sowat 4 km vanaf die Kango Grotte vertel, was een van die interessanthede waaroor inwoners van Oudts­hoorn, De Rust, Prins Albert en die Tuinroete tydens ’n onlangse uitstappie na Schoemans­hoek en die Kango Grotte ingelig is.

Die uitstappie wat op 27 Mei plaasgevind het, is deur die Stigting Simon van der Stel en die Prince Albert Cultural Foundation gereël.

“Grotte is soos argiewe,” het dr Judy Maquire, ’n paleontoloog van Prins Albert, gesê toe sy aanwesiges vertel het oor wat alles gevind is tydens uitgrawings in die Boomplaas-grot wat in die Swartberge geleë is.

Die grot is op die plaas Boomplaas geleë waar ’n historiese plaasopstal uit 1810 ook besoek is.

Die lae sediment in die grot vertel ’n verhaal wat oor die afgelope 80 000 jaar strek, sê Maquire.

Volgens haar sluit dit inligting in oor klimaats­verandering, onder meer oor die Last Glacial Maximum (LGM) van 18 000 gelede toe groot dele van die aarde deur ys bedek is en die seevlak as gevolg daarvan baie laer was as nou.

Maquire sê opgrawings in die grot het vyf meter sediment ontbloot en 10 jaar lank geduur.
Die meer onlangse geskiedenis is in die boonste lae vasgevang en hoe dieper gegrawe is, hoe meer inligting oor duisende jare vroeër is gevind.

In die lae in die grot is allerhande dinge vasgevang wat tydens die opgrawings gevind is – soos stuifmeel wat ingewaai is en meer vertel oor plan­tegroei uit sekere tydperke, die beddegoed (kooigoed) wat mense daar ingedra het, houtskool van die vure wat daar ge­maak is, beendere, klip­werktuie en potte.

Met die hulp van wat in die lae in die grot gevind is, kon daar met die hulp van wetenskaplike ontledings aflei­dings gemaak word oor diere en mense wat oor die eeue in die omge­wing was.

Deur die ouderdom te bepaal van die eerste skaapmis wat in die grot gevind is (omstreeks 1790), kon byvoorbeeld bepaal word wanneer die eerste veeboere in die omgewing begin woon het.

• In die Interpreta­sie­sentrum van die Kango Grotte is ’n groot skematiese voor­stelling teen een van die mure oor die uitgrawings by Boomplaas met aanduidings van klimaat en die teenwoordigheid van diere en mense deur die eeue.