2017 was in meer as een opsig ’n waterskeidingsjaar vir dierewelsyn in Oudtshoorn, met dierewelsynorganisasies en die staatsveeartskantoor wat nuwe inisiatiewe – soos ’n mobiele dierekliniek en Spay-a-thon – geloods het wat met groeiende geesdrif deur inwoners ondersteun is.

Bo: Die kleurvolle nuwe mobiele dierekliniek tydens ’n besoek aan een van Oudtshoorn se woonbuurte. Foto: Magda Davel
Onder: Dr Christiaan Blignaut ondersoek ’n hond tydens een van die besoeke. By hom is van Oudtshoorn se vrywilligers (van links). Sittend voor is Vanessa Engelbrecht en agter Billy Engelbrecht van ACT, asook Lee-Anne van Sittert en Elmarie Swiegers van Oudtshoorn Volunteers vir Diere. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE uitdaging om ’n mobiele kliniek vir Oudtshoorn van die grond af te bring, was iets wat hy net móés doen, sê dr Christiaan Blignaut, wat vanjaar sy gemeenskapsjaar as veearts by die kantoor van die staatsveearts op Oudtshoorn deurgebring het.
“Ek het die mobiele kliniek begin omdat ek vrye tyd gehad het en nie ’n geleentheid wou laat verbygaan om ’n bydrae in die gemeenskap te maak nie. Ek het besef daar is ’n behoefte vir ’n veearts in die gemeenskappe wat nie ’n privaat-veearts kon bekostig nie. Ek glo ons moet altyd gemotiveer wees om ’n verskil te probeer maak en waarde by te voeg, maak nie saak in watter situasie die lewe jou plaas nie.”
Die kliniek is sedert Julie bedryf met die hulp van vrywilligers van verskeie dierewelsynorganisasies op Oudtshoorn: die Animal Care Team (ACT), Oudtshoorn Volunteers vir diere en Magda Davel van die munisipale diereskut en Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN).
Die bussie het een maal per week dele van Riemvasmaak, Smartie Town, die Ou Lokasie en die Kanaal besoek vir die behandeling van diere en ’n opvoedingsprogram vir die gemeenskap.
Diere wat nie daar gehelp kon word nie, is later by die staatveeartskantoor geopereer of behandel.
Blignaut sê sowat 150 diere is vanjaar gesteriliseer. Hy het tussen 400 en 500 diere geëvalueer en behandel.
Sterlisasie is die grootste bydrae wat in gemeenskappe gelewer kan word, sê hy. ’n Troeteldier wat gesteriliseer is, loop minder rond, baklei minder en sterilisasie werk ook geslagsoordraagbare kanker teen.
“Die diereskut is altyd oorvol en daar is op die einde nie huise vir al die diere nie. Onthou, ’n hond kry ses tot tien kleintjies per jaar.
“Ek moes verlede week byvoorbeeld tien honde by een huis uitsit omdat daar nie kos was vir hulle nie.”
Hy sê hoewel inwoners aanvanklik skepties was, was almal later baie positief oor die besoeke van die mobiele kliniek.
“Dit was egter vir my ’n uitdagende jaar. Dit het baie geduld, administrasie en selfs ’n paar toutjies wat getrek moes word, gekos om die mobiele kliniek aan die gang te kry en genoeg voorraad daarvoor te kry. Die grootste uitdaging is om gereeld voorraad te kry.
“Die gebrek aan sekere toerusting en gemagtigde personeel het dit ook uitdagend gemaak – veral omdat ek pas my studie klaargemaak het. Om my eie kliniek te bedryf sonder die steun van ’n ervare mentor was taai!
“Maar dit was ’n voorreg om met ongelooflike welsyns-vrywilligers te werk wat hul tyd en lewens opgeoffer het om my en die diere van Oudtshoorn te help. Ek sou nooit die kliniek sonder hulle kon bedryf nie. Ek was ook gelukkig dat die plaaslike veeartse altyd bereid was om raad te gee wanneer ek dit nodig gehad het.”
Blignaut sê ook hy het gevind dat mense ’n groot behoefte het vir inligting en raad oor troeteldiere – die kos wat geskik is vir troeteldiere, vlooi- en bosluisbeheer, veltoestan- de, hoe jy ’n dier optel, waarom kort leibande en kettings om die nek nie geskik is nie, ens.
• 110 diere is vanjaar in Mei tydens die Spay-a-thon gesteriliseer. Die Spay-a-thon was ’n projek van die Animal Care Team (ACT) en Oudtshoorn Volunteers vir Diere in samewerking met dr Cathy Fox van die staatsveeartskantoor.