Speel-speel na geletterdheid!

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Het jy al ooit probeer om kinders te keer om hul verbeelding te gebruik? Dis een van die moeilikste goed in die wêreld om te doen!

Kinders gebruik hulle verbeelding gereeld. Dit maak sin om hulle aan te moedig om dit te doen, want terwyl hulle “kamma”-speletjies speel, leer hulle ook om simbole te gebruik. Dit beteken hulle leer hoe om een ding te gebruik om ’n ander voor te stel, byvoorbeeld: jou kind gebruik ’n lepel as ’n “kamma”-telefoon, of ’n plastiekbord op jou kind se kop dien as ’n kroon. In boeke is woorde simbole vir ge­dagtes en idees. Deur “kamma”-spe­letjies te speel ontwikkel ons kinders dus ’n begrip wat noodsaaklik is om te leer lees.

Hier is maniere waarop jy jou kinders se verbeeldingspel kan aanmoedig:

• Speel saam. Vra of jy ’n karakter in jou kinders se speletjie kan wees en speel dan saam. Kom tot op jou kinders se vlak deur op die vloer of ’n lae stoel te sit. Wanneer jy speletjies saam met jou kinders speel, help dit om ’n band tussen julle te bou.

• Hou dop en volg dan. Pak speelgoed uit wat vir “kamma”-speletjies gebruik kan word – soos ’n pop, vrag­- motor of speelgoedtelefoon – en kyk dan wat jou kind se belangstelling prikkel. Wanneer sy ’n speelding optel en daarmee begin speel, speel dan daardie “kamma”-speletjie saam met haar. Kinders is baie meer gewillig om saam met jou te speel wanneer jy hulle leiding volg.

• Maak beurte. Soms, as kinders nie geneë is om speletjies op te maak nie, voel ons asof ons moet oorvat en vir hulle moet wys wat om te doen. Nadat jy iets met jou speelding gedoen het, wag net ’n rukkie sodat jou kind ’n beurt kan kry om iets met sy speelding te doen. Dink daaraan as ’n gesprek – elkeen van julle kry ’n kans om iets te sê of te doen!

• Lees hardop. Stories is soos bemesting vir die verbeelding – dit help die verbeelding groei! Storieboeke bied kinders ’n eindelose voorraad idees vir karakters, tonele en situasies wat hulle in hul verbeeldingspel kan gebruik.

Vind die kind in jou wanneer jy “kamma”-speletjies met jou kinders speel, en weet dat jy hulle so ook help om hul geletterdheid te ontwikkel!

Het jy nie tyd om biblioteek toe te gaan nie, of is jou voorraad stories om met jou kinders te deel uitgeput? Gaan na www.nalibali.mobi om op jou foon toegang te kry tot stories in ’n verskeidenheid Suid-Afrikaanse tale – enige plek, enige tyd! (Standaardtariewe geld.)