Deur Liesel le Roux
Die Hoorn se gewilde jaarlikse jaarbeplanner/kalender verskyn volgende week as insetsel in Die Hoorn. Maak dus seker dat jy nie Die Hoorn van Donderdag 30 November misloop nie.
Behalwe dat dié kalender vir jou 2018 met openbare vakansiedae en skoolvakansiedatums in een oogopslag gee, bevat dit ook ’n handige kaart van die Klein Karoo en Suid-Kaap. Dié kaart is ’n moet-hê vir elke reisiger en inwoner van die streek.
Die kalender bevat ook noodnommers vir die Oudtshoorn-omgewing.
Hierdie is goed vir toerisme
TWEE dinge het hierdie week gebeur wat ’n baie positiewe uitwerking kan hê op Oudtshoorn as toerismedorp.
Die eerste is die bekendmaking van die datums waarop die Suid-Afrikaanse Fietsrykampioenskap volgende Februarie op Oudtshoorn plaasvind.
Dié groot sportgeleentheid gaan duisende mense na die dorp bring. Net die aantal deelnemers word op meer as 1 000 bereken, en hulle word vergesel deur afrigters en/of familie, wat uiteindelik beteken dat duisende mense meer in dié dae Oudtshoorn sal besoek.
Dit is ’n pluimpie vir Oudtshoorn dat dié nasionale kampioenskap die derde keer op dié dorp gaan plaasvind. Welgedaan! Mag inwoners die besoekers aan ons dorp met hul kenmerkende gasvryheid ontvang.
Tweedens is die opening van die Klein Karoo Ostrich Emporium op een van Oudtshoorn se besigste roetes – die pad na én vanaf George – ook ’n positiewe ontwikkeling.
Die Klein Karoo se volstruisprodukte is nou sommer langs die pad vir besoekers om te besigtig. Ons hou duimvas dat die visie van ’n toerismetoonbank in dié winkel sal realiseer.
Dit is ’n mooi winkel wat ’n mens met nuwe oë na volstruisprodukte laat kyk.
Met landbou wat tans swaarkry, is die rol wat toerisme in die Oudtshoorn-ekonomie speel, belangriker as ooit en kort die bedryf alle ondersteuning nodig.