Pragfoto’s van Karoo

Nuwe koffietafelfotoboek

Louis Botha met sy twee koffietafelfotoboeke.  Foto: Marlene Malan

Louis Botha met sy twee koffietafelfotoboeke.  Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
BYNA drie jaar nadat sy eerste koffietafelfotoboek verskyn het, is die Prins Albertse fotograaf Louis Botha se tweede pas gepubliseer.

Maar waar Slow down, look again…  (2015) ’n verhaal vertel van die mense van die woonbuurt Noordeinde in dié dorp, bevat Karoo swartwit en kleurfoto’s van ’n groot deel van dié landstreek – rofweg van regoor die hele Karoo, van McGregor tot by Steytlerville, van Verneukpan en Boesmanland tot by die Tank­wa-Karoo, die mense en diere, berge, plantegroei en bar grond, sy verlate paaie, klein dorpies en ge­boue, en sy verlate stasies en windpompe teen die agtergrond van uitgestrekte vlaktes en die onbe­lemmerde hemelruim.

Botha het dié nuwe boek se foto’s oor ’n tydperk van sowat14 jaar geneem.

Karoo laat jou dié gebied se trilogie beleef, “ruimte, tyd en stilte. Elke foto is ’n woordlose gedig,” skryf die akademikus en joernalis Wilhelm Jordaan in die voorwoord.

Botha skryf in Karoo: “Die Karoo het ’n manier om onder jou vel in te kruip. Sy kom dring deur murg en been, meng met die bloed in jou are. As jou siel eers die Karoo se siel ontmoet het, is jy tuis. Die Karoo maak my sintuie wakker.”

Botha het aan Die Hoorn gesê sy werk aan Karoo het beteken dat hy soms moes teruggaan na bepaalde plekke en tonele om die verhale te ontgin wat hý as fotograaf en visuele kunstenaar wou vertel. “Met landskaptonele praat mense dikwels van, sê nou maar, die berge of die bome as die ‘karakters’ wat in ’n foto voorkom, maar dit is die kwa­liteit van lig wat ’n storie kan maak of breek.  Ek moes my dikwels afvra of ek ’n warmte of kilheid aan ’n toneel wou heg – want dit het beteken dat ek ’n bepaalde tyd van die dag of maand van die jaar moes kies om te kan oordra wat ek graag wil. Soos die slag toe ek ná ’n hele paar ure se ry by Boschluyskloof kom … Ek het besef dié plek verg nie ’n middagfoto nie; eerder ’n oggendfoto.

“Daar is mense wat dink sommige foto’s is ge­redigeer om ’n bepaalde kleur te kry. Vir die­sulkes vra ek: ‘Het jy al soggens vieruur opgestaan sodat jy presies kan vind wat jy soek?

Botha se metgeselle op sy ver paaie was dikwels sy vrou, Mariana, “en ook my Staffordshire, Ra­phael. Raffie en ek het al op verlate plekke in ons kar geslaap, of in ’n blikkaravaan.”

Mense en landskappe is nie so verskillend nie, sê Botha. “Albei het bepaalde karaktereienskappe, gemoedstemminge wat wissel, albei kan maklik opgebruik word, albei maak hul boesem vir jou oop as jy eers tyd saam met hulle bestee het. My foto’s sê nie net iets van die omgewings wat ek vasgevang het nie – dit sê ook iets van myself. Dis slegs mý interpretasie van tonele.

Ek glo my foto’s is ’n eerlike uitdrukking van my indrukke.”

• Karoo (160 bladsye) kos R690 en kan bestel word by lj.botha@iafrica.com.

Be the first to comment on "Pragfoto’s van Karoo"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*