Leesfees in November

Deur Marlene Malan
DIE grootste Karoo-literatuurfees, die Prince Albert Leesfees (3 tot 5 November), word gekenmerk deur die bekendstelling en bespreking van splinternuwe boeke. Die tema is: In die gees van die Karoo/The Soul of the Karoo.

Dit word vanjaar die sesde keer aangebied, weer in die Jans Rautenbach Schouwburg, die Depth Leadership-sentrum en The Showroom-teater.

Boeke wat bespreek word, is Ware mense (Bart de Graaff), Johanna en Die reis gaan inwaarts (Cas Wepener), Drie vroue en ’n meisie (Hans du Plessis), Warriors, dilettantes and businessmen (Richard Dean), Rule of Law (Glynnis Breytenbach), The Yearning (Mohale Mashigo), Killing Karoline (Sara-Jayne King), Slot van die dag en Afskeid van Europa (Karel Schoeman), The Runaway Horses/Wintersrust (Joyce Kotzè), God praat Afrikaans (HemelBesem, oftewel Simon Witbooi), Uittogboek (Johan Myburg), 40 stories, 40 woorde op 40 (Gaireyah Fredericks), Agents of the State/Staatsrotte (Mike Nicol), Kamikaze (Rudie van Rensburg), Tuisland (Karin Brynard), Stories van die See/Sea Stories en ander jeugboeke (Wen­dy Maartens) en Klim op die Bant Wagon/ Jump on the Bant Wagon (Nick Charlie Key).

Dis die oogmerk van dié fees van skrywers en boeke om tersaaklik, toeganklik en tweetalig te wees, sê Linda Jaquet, voorsitter van die Leesfeeskomitee. “Verskeidenheid is ewe belang­rik, en daarom sorg ons dat uiteenlopende genres bespreek word.”

Daar is ook paneelbesprekings: Die literator prof Dorothea van Zyl, die kinder-en-jeugboekskrywer Wendy Maartens en kinderboekillustreerder Janienke van Zyl gesels oor die stand van kinderboekpublikasie in Suid-Afrika, en die uitgewer Nicol Stassen en Cas Wepener (Die reis gaan inwaarts) oor Karel Schoeman se bydrae tot ons literatuur. Brynard, Van Rensburg en Mike Nicol gaan nie net oor eie werk praat nie, maar ondersoek die gehalte en gewildheid van spannings­romans in Afrikaans en Engels in Suid-Afrika. Myburg praat by die openingsgeleentheid met die kunskenner en kunshistorikus Elza Miles oor haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunsomgewing.

Teateraanbiedings sluit in die groep Kaleido­- ­s­koop, die komediant Nik Rabinowitz, Tribal Echo (Huldeblyk aan Adam Small/Tribute to Adam Small), en Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert, asook vier Wes-Afrikaanse sangers in die produksie Afrika my verlange/Afrique mon désir.

• ’n Eerste vanjaar is ’n slypskool vir skeppende skryfwerk (aanbieders: proff Bernard Odendaal en Hans du Plessis) op 1 en 2 November (13:00 – 15:00). Onderwerp: Die skryf van prosa. Koste: R800 (sluit verversings en studiemateriaal in). Registreer by marlene.skryf@gmail.com.