Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle verstaan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.
As volwassenes weet ons dat mededeelsaamheid ’n belangrike lewensvaardigheid is.
Deel hiervan is om beurte te maak met ander. Wanneer jy gereeld saam met jou kinders lees, ontwikkel jy hulle nie net as lesers nie, maar het jy ook ’n wonderlike geleentheid om vir hulle te wys hoe om hierdie waardevolle lewensles te leer.
Hier volg ’n paar maniere waarop julle kan deel en beurte maak terwyl julle saam lees.
❤ Maak beurte om boeke te kies.
Vra soms jou kinders om die storieboeke te kies wat julle saam gaan lees. Ander kere kan jy ’n storieboek kies wat jy graag wil hê hulle moet lees.
Julle kan ook beurte maak deur jou kinders se gunstelingstories te lees, en dan ’n boek te deel wat nie een van julle al voorheen gelees het nie.
❤ Maak beurte om vir mekaar stories te vertel.
Deel “ou” stories wat julle al voorheen gehoor het, of nuwes wat julle self opgemaak het!
❤ Terwyl julle saam lees, maak beurte om die woorde te “lees”.
Vra soms die kinders wat al kan lees om een van die karakters in die storie se woorde te lees. Moedig kinders aan om saam te lees wanneer jy herhalende frases of sinne in ’n storie lees.
In die storie Die drie varkies sê die wolf byvoorbeeld weer en weer: “Ek sal raas en ek sal blaas en jou huisie omblaas.”
❤ Help kinders om oor die stories wat julle lees te dink deur vrae te vra soos: “Wat dink julle van..?”, “Waarom dink julle het hulle dit gesê/gedoen?” en “Wat sou jy gesê/ gedoen het as dit jy was?”
Onthou om ook jou kinders toe te laat om hulle eie vrae oor die stories te vra.
❤ Beurte maak is nie net vir ouer kinders nie.
Betrek babas en kleuters deur hulle te vra om jou te help om die bladsye om te blaai wanneer jy vir hulle lees!
❤ Maak beurte by julle leesklub.
Jy kan die boek kies om hardop vir die kinders te lees, en dan kan jy tyd toelaat sodat die kinders boeke kan kies waarna hulle op hul eie of saam met ’n maat wil kyk of lees.
Om beurte te maak help om deur middel van boeke ’n vennootskap met kinders te bou.
Dit beteken dat jy die mag deel om besluite te maak oor wat julle gaan lees en hoe om leestyd saam deur te bring.
En so word die ontdekking van boeke iets wat julle regtig saam kan doen!
