Koester boeke as skatte: 5 maniere

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale            lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle   ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

Nal’ibali (isiXhosa vir “hier is die storie”) is ’n nasionale lees-vir-genot-veldtog wat kinders se potensiaal help ontwikkel deur middel van lees en die vertel van stories. Kinders wat hulle inleef in goeie stories wat goed vertel word – in tale wat hulle ver­staan – word geïnspireer en gemotiveer om self te leer lees.

4 Bella reading on floor 26 Okt

Boeke is duur en dis te verstane dat ons wil hê hulle moet lank hou. Hoe kan ons ons kinders help om mooi na boeke te kyk sodat hulle oor en oor geniet kan word? Hier is vyf maniere.

1. Kweek ’n liefde vir stories
Ons kan nie van kinders verwag om boeke mooi te hanteer as hulle nie lief is vir stories nie! Wanneer jy gereeld saam met kinders lees en stories geniet, leer hulle gou om boeke te koester.

2. Leer deur jou voorbeeld
Kinders leer meer wanneer hulle ons dophou as wanneer ons vir hulle sê wat om te doen. As jy dus nie boeke mooi hanteer nie, kan jy nie van jou kinders verwag om dit te doen nie! Wys hulle hoe om boeke te hanteer. As jy vir hulle lees, blaai byvoorbeeld die bladsye versigtig om en wanneer jy ’n storie klaar gelees het, pak die boek op sy plek op die boekrak weg.

3. Verwag wat redelik is
Kinders moet tyd deurbring deur op hulle eie na boeke te kyk of dit te lees. Dit is natuurlik dat hulle gunstelingboeke na ’n ruk effe gehawend sal raak. Moedig ouderdomsgeskikte boekgedrag by jou kinders aan.

Dit is byvoorbeeld “normaal” vir ba­bas om die hoeke van boeke te kou – want hulle sit alles in hulle monde – maar ons verwag dit nie van driejariges nie. En sewejariges moet reeds die blad­sye van ’n boek mooi kan omblaai, maar baie driejariges kan dit nog nie doen nie.

4. Maak bêreplek vir boeke
Help kinders om te leer om boeke te versorg deur spesiale bêreplekke daarvoor te maak. Jy kan boekrakke gebruik, asook versierde bokse of die bokse se deksels.

5. Moenie te veel reëls maak nie
Te veel reëls oor hoe om boeke te gebruik kan kinders se liefde vir stories doodmaak. Probeer net ’n paar reëls hê wat vir kinders sin maak.

Byvoorbeeld: “Kom ons hou water en dit wat ons drink weg van boeke, want as ons op ons boeke mors, sal ons hulle beskadig.” Ook: “Kom ons maak seker ons hande is nie taai wanneer ons na boeke kyk nie, want as van die bladsye aan mekaar vassit, sal ons nie die hele storie kan lees nie!”

Soos met die meeste dinge in die lewe verg dit tyd, oefening en aanmoediging om boeke reg te hanteer.
Kinders sal dit baie vinniger leer as hulle die genot ervaar wat lees en boeke bied.