Deur Liesel le Roux
DIE Valke, die polisie se direktoraat vir die ondersoek na prioriteitsmisdade, het verlede week op Ladismith beslag gelê op die selfoon van die dorp se voormalige burgemeester, Jeffrey Donson, asook op dokumente en rekenaars.
Die Valke het op Dinsdag, 17 Oktober, dié beslagleggings gedoen by die Kannaland Munisipaliteit, Icosa se kantoor op die dorp, asook Donson se huis. Donson is die president van Icosa.
Volgens kapt Lloyd Ramovha, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Valke, hou die Valke se optrede verband met ’n ondersoek na bedrog.
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa en nasionale woordvoerder van die party, het met ontsteltenis op die Valke se optrede gereageer.
“Ons het met skok kennis geneem dat die Valke Dinsdagoggend onaangekondig op die huis van die president van Icosa toegeslaan het.”
Kamfer het gesê Icosa vind dit ook skokkend dat beslag gelê is op persoonlike dokumente van lede van Icosa.
“Ons het duisende lede. Dié dokumentasie het niks te doen met enige ondersoek van bedrog nie. Ons weet nie wat die motiewe en rede is nie. Ons vermoed dit is ’n politieke aanval om Icosa se opmars na 2019 te stop.”
Ian Avontuur, woordvoerder van die huidige burgemeester van Kannaland, Magdaleen Barry, het gesê Barry het kennis geneem van die Valke se optrede in Ladismith, en gevra dat die reg sy verloop neem.