
Louisa Punt-Fouche met haar nuwe digbundel, Ek skryf met bloed en bene.
Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
Byna ’n jaar nadat haar gewilde en kleurryke boek oor die oewerkonyn verskyn het, het Louisa Punt-Fouché pas as digter gedebuteer met die bundel Ek skryf met bloed en bene.
Dit is haar vierde boek, ná Webs of Enchantment, Daar is kewers in my ruggraat en Skaarser-as-skaarste Oewerkonyn, met sy vertaling Rarerst Riverine Rabbit. Punt-Fouché het ook die illustrasies in haar twee jongste boeke gedoen.
Ek skryf met bloed en bene “is gedigte en gedagtes wat sing in Afrikaans en Engels,” vertel sy. “Dis ’n bundel wat deurspek is met woordbeelde. Kafka en Nietzsche hou hande vas in hierdie boek; draf deur ’n vrou se mymeringe van die ontvouing van haar onmiddellike leefwêreld, en dit in ’n komplekse land”.
Vele gesprekke met Punt-Fouché oor ’n lang tyd bied jou ’n sonderlinge kykie in die wêreld en denke van ’n vrou wat na aan die natuur leef, iemand wat die teenwoordigheid van ’n groter mag ervaar in haar omgewing – dit is die mense en diere, bome en plante wat haar pad kruis.
“My idee met dié bundel was om woord en beeld te laat saamsmelt tot ’n metaforiese en allegoriese teenwoordigheid, wat altyd die deur van die onbewuste oopmaak. Die kleure rooi, grys, swart en wit is onbewustelik ingevleg. Soos ek gewerk het, het gedagtes van die bedreiging van die lewensaar, of lewensenergie, in rooi gebeur”.
Die rooi lyn op die voorblad is ’n woord- en beeldtema dwarsdeur die boek. “Dit verwys na die bloed van die verganklike siel, ’n reis om daardie lewe wat strek tussen lewe en dood te ontdek. Die tema van bene verwys na die noodsaaklike, maar byna onvernietigbare aspekte van die menslike lewe”.
Die mens maak op sy lewensreis indrukke bymekaar om homself as unieke enkeling te verwesenlik, “wat beteken dat ons al hoe meer bewus raak van die waarheid van ons menslike bestaan”. En dit, sê sy, bring “ ’n helderheid van kennis en ’n verdieping van begrip”.
Punt-Fouché sê die kuns- en woordprosesse in Ek skryf met bloed en bene “is nie uitgedink nie, maar eerder ’n spontane geboorteproses van woord en beeld as ’n heilige kuns- en poësietaal”.
Sy was langer as 30 jaar ’n kliniese sielkundige in Port Elizabeth en het ’n doktorsgraad in haar vakgebied.
Sy en haar man, dr Ian Punt, het vyf jaar gelede na Prins Albert verhuis waar hulle in die Kredouw-vallei met olywe boer.
Die skryf- en skilderkuns is inderdaad ook vir Punt-Fouché ’n lewensaar. “Ek skryf gedigte en stories van kleins af. Daar is boeke en boeke vol woorde en tekeninge as getuigskrif van my geleefde jeug en latere lewe. Aan die Universiteit van Stellenbosch was sy deel van die skryfskool van die digter DJ Opperman.
Sy het nooit formele kunsopleiding gehad nie, vertel sy, “maar vandat ek kan onthou, skep ek deur te teken, te verf en te vorm. Om te skep, beteken dat die tyd vir my gaan stilstaan.”
Ek skryf met bloed en bene sal binnekort by verskeie groot boekwinkels beskikbaar wees.
Skryf aan louisepunt@gmail.com vir meer inligting.