Campbell se Skilpad praat binnekort Nederlands

Bo: Die boek, Die skilpad se laaste traan, word eersdaags in Nederland uitgegee.
Onder stap die skrywer Carol Campbell, voorheen van Prins Albert, met haar pug in Nederland.  Foto’s verskaf

Deur Marlene Malan
DIE skrywer Carol Campbell se der­de roman oor die Karoo se “weggesteekte” mense, oftewel karretjie­men­- se, verskyn binnekort in Nederlands.

Dié oud-Prins Alberter se Die skilpad se laaste traan, wat oorspronklik in Engels as The Tortoise Cried its Only Tear gepubliseer is, gaan deur Uitgeverij Mozaiek in Utrecht uitgegee word. Mozaïek het al verskeie romans van Irma Joubert gepubliseer, asook van onder andere Deon Opperman, Hans du Plessis en Marguerite Poland.

Tortoise het begin vanjaar by Umu­zi, ’n afdeling van Penguin Random House, verskyn en is deur Kirby van der Merwe in Afrikaas vertaal. Hy was ook verantwoordelik vir die Afrikaans van haar vorige twee romans, My Children Have Faces (Karretjiemense) en Esther’s House (’n Huis vir Ester).

Skilpad speel af in en om Seekoegat, ’n klein nedersetting sowat 60 kilometer van Prins Albert.

Volgens ’n mediaverklaring van Umuzi het Mozaïek dadelik Skilpad se potensiaal in Nederland gesien.

“Ek het so baie van die verhaal ge­hou, die manier waarop die spanning toeneem, die terugflitse, die atmosfeer,” het Corinne Vuijk van Mozaïek gesê.

Umuzi beskou die bekroonde Karretjiemense as een van Suid-Afrika se “klassieke” romans.

“In Skilpad glo die nomadiese karretjiemense dat ’n skilpad één traan op sy sterfdag stort. Met dié simboliek as agtergrond verweef Campbell die stories van drie kinders van karretjiemense – Siena, Boetie en Kriekie – wie se lewens later as volwassenes saamloop. Die leser ontmoet Siena waar sy een nag bebloed op ’n afgeleë pad hardloop, op pad na die Primêre Skool Seekoegat, die enigste veilige plek wat sy ken. Hier­die openingstoneel het die impak van ’n spanningsverhaal. Selfs in die stof van die droë Karoo vind ’n mens soms goedhartigheid wat hoop gee.”

Campbell was voorheen ’n joernalis by verskeie koerante. Sy en haar gesin woon deesdae in Shetland, ’n eilandgroep naby Skotland.