Campbell se laaste Karooboek

Carol Campbell aan die skryf aan Die skilpad se laaste traan. Foto verskaf

Deur Marlene Malan
DIT was toe sy by hul vulstasie in Prins Albert gewerk het dat sy die humor, pyn, huissake, lyding en veral armoede van baie mense van die omgewing leer ken het. So vertel die skrywer en joernalis Carol Campbell, deesdae van Lerwick, Shetland – ’n eilandgroep noord van Skotland. Sy en haar man, Colin, het 12 jaar lank, tot in 2012, hul onderneming in die Karoo bedryf.

Dié tyd was genoeg om haar te inspi­reer om drie boeke te skryf: My children have faces, Esther’s House en onlangs The Tortoise Cried its Only Tear, al drie in Afrikaans vertaal deur Kirby van der Merwe as Karretjiemense, ’n Huis vir Ester en Die skilpad se laaste traan. “Die Afrikaanse lesers is my ware mark – ek verkoop meer van my boeke in Afrikaans as in Engels,” vertel Campbell.

“Die Karoo is ’n plek wat jou dwing om oor afstand na te dink. Dis ’n uitge­strekte gebied. Dis nie maklik om van een plek na ’n ander te reis nie. Soms lê daar tien kilometer tussen ’n plaashek en ’n plaashuis.

Ek het nog altyd daarin belang gestel hoe mense gedwing word om stadiger te leef en in te neem wat om hulle aangaan as al die moderne hulpmiddels van die stad nie beskikbaar is nie. Dis wanneer jy eers werklik die lug en die vorm van die landskap sien, dis wanneer jy ’n enkele bytjie raaksien en bewus is van die reuk van water.”

Dis dié landskap wat haar ook bewus gemaak het van die afstand wat daar tussen mense bestaan, sê Campbell. “Ek het ver paaie gery en die gebied verken, en al hierdie ure het my gehelp om op die wonderlike omgewing verlief te raak. Daar is iets aan die Karoo se horison, die sonsondergang en die veld wat jou siel roer.”

Shetland lyk baie soos die Karoo, volgens Campbell. “Shetland-lamsvleis is byna net so beroemd soos Karoo-lams­vleis. En ons het die Shetland-ponies, een van dié eilandgroep se beroemdste uit­voerprodukte. Shetland se kultuur is heeltemal anders as dié van Skotland. Die eilande, wat in die Noordsee lê, beteken dat dit histories ’n vasmeerplek was vir veral die Hollandse seevaarders. Dis waarom die Shetland-dialek baie klink soos wanneer ’n Afrikaanse mens Engels praat. Die Shetlanders gebruik ook baie Noorweegse woorde en hier is ’n sterk Viking-geskiedenis.

“Elke dag hoor ek woorde en fragmen­te wat bekend klink. Dis interessant dat die mense van die Karoo, soos die karre­tjiemense, soms dieselfde woorde en fra­ses gebruik as ’n kleinboer hier. Anders as die Engelse gebruik die Shetlanders ’n ‘d’ vir ‘th’ en sê ‘bly’ vir die Engelse woord glad, ‘kirk’ vir church.

“Die Shetlanders hou ook van dans, veral op die maat van viool en trekklavier. Die partytjies hier laat my baie dink aan ’n goeie opskop in die Karoo.”

Campbell sê sy dink Skilpad is haar laaste Karoo-boek. Sy verlang egter baie na die mense wat die grondslag van baie van haar karakters gevorm het. “My verhouding met die Karoo-mense het oor ’n lang tyd ontwikkel. Hulle was soos my familie. Hulle is skaam en dit het lank geduur voordat hulle dié wit

Engelse vrou verstaan het. Ons het oor jare ’n ver­trou­ensverhouding opgebou. Ek sal dit vir altyd koester.”