
By die ontvangs van die spesiale merietetoekenning was van links Magdaleen Titus (ANC-raadslid), Anton Bredell (Wes-Kaapse minister van plaaslike regering), Colan Sylvester (burgemeester van Oudtshoorn), George Kersop (voorsitter finansiële portefeulje), Memory Booysen (burgemeester van Eden) en Reginald Smit (waarnemende munisipale bestuurder). Foto: Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het vanoggend ’n spesiale merietetoekenning ontvang as erkenning vir die vordering wat die munisipaliteit ten opsigte van sy jaarlikse ouditverslag gemaak het.
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het spesiaal na Oudtshoorn gereis om die toekenning aan die burgemeester, Colan Sylvester, te oorhandig.
Volgens Bredell het die Ouditeur-Generaal aanbeveel dat een munisipaliteit in die Wes-Kaap – die Groter Oudtshoorn – erkenning moet kry vir die harde werk in die finansiële departement sedert die munisipaliteit in 2015 onder administrasie geplaas is.
Die munisipaliteit het vanjaar ’n gekwalifiseerde ouditverslag gekry met aanbevelings, en streef nou, volgens Sylvester, na ’n skoon oudit volgende jaar.
(Berig deur Liesel le Roux)