Skietsaak sloer

Die saak teen ’n bejaarde man wat ’n onbekende man op sy erf doodgeskiet het en van moord aangekla word, is Woensdag, 23 November, in die Oudtshoorn Streekhof tot 9 Desember uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger nie teenwoordig kon wees nie.

Die beskuldigde, Benjamin Joubert (69), voer aan dat hy uit noodweer opgetree het toe hy op 10 Desember verlede jaar die 19-jarige Raymond Oliphant op sy erf in Parkweg doodgeskiet het.

Die staat het sy saak gesluit na die getuienis van ’n patoloog, dr Mariette Hurst, wat die lykskouing op Oliphant uitgevoer het. Volgens haar het die koeël die oorledene aan die kant van die kop getref wat daarop dui dat hy waarskynlik wou omdraai toe hy die beskuldigde gewaar.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het opgemerk dat die saak teen Joubert moontlik nie vanjaar afgehandel sal kan word nie weens probleme met geskikte verhoordatums.

 

(Deur Garnett Wicomb)