Polisiehoof groet na 38 jaar in SAPD

OUDTSHOORN se polisie­hoof, brig Lenova Januari, het verlede week afgetree na 38 jaar se diens in die SAPD.

Hierdie ystervrou sê hoewel sy nou aftree, sy steeds ’n liefde en passie het vir die gemeenskap en by bestaande organisa­sies gaan inskakel waar sy steeds projekte gaan aanpak om nasiebou te bevorder.

Januari, die ma van twee seuns en ouma van drie klein­kinders, sê sy sien baie uit daarna om verlore tyd saam met haar familie in te haal.

Op ’n vraag of daar iets is wat sy nie gaan mis nie, ant­woord sy: “Ek kan nie spesifiek sê nie, want negatiwiteit het ek altyd in ’n positiewe lig benader,”

Oor wat sy die meeste gaan mis, sonder sy die groot blootstelling aan verskeie interne programme en die mense wat sy deur die jare ontmoet en leer ken het, uit.

“Ek sal ook die samesyn met my kollegas en die goeie resultate wat ons bereik het met elke uitdaging wat oor ons pad gekom het, mis,” sê sy.

Januari was vanaf 1998 die stasiebevelvoerder van die Athlone Lansdowne-tak in Kaapstad, waar sy aan baie Pagad-sake gewerk het, wat volgens haar baie uitputtend, maar ook ’n groot uitdaging was.

“Die Pretson Titus-saak sal my altyd bybly, veral die professionele ondersoek van kapt Deon Bouwer en ao Martin le Roux, sowel as lede van die ge­meenskap wat inderdaad betrokke was; asook dat dit gelei het tot die suksesvolle vonnis van die skulidges,” sê Januari.

Januari is in 2011 aangewys as Beste Polisievrou in die Wes-Kaap.

Sy was deur die jare ook verantwoordelik vir verskeie interne en eksterne projekte, en ook die hoof van misdaadvoorkoming.

Sy het die week haar bevel­voer­der, genl maj Oswald Reddy, bedank vir sy strategiese benadering van polisiëring, sowel as almal wat haar ondersteun het, binne die SAPD sowel as buite.

“Dankie dat julle my hand gevat het en dat ons ook erkenning in 2018/2019 vanaf die provinsie vir ons werksaamhede gekry het.”

Haar boodskap wat sy graag aan haar mede-Oudtshoorniete wil oordra, is: “Oudtshoorn, bou en verbeter jul gemeenskap, belê in hulle en bemagtig gemeenskapwaardes onder mekaar.”

“Ons stasie se leuse sal my altyd bybly: Crime is our business, client satisfaction is our pride.” (Deur Angelique Erasmus)