Deur Garnett Wicomb
DIE ontslagaansoek van twee mans wat tereg staan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede is in die Oudtshoorn Streekhof van die hand gewys omdat die staat ’n sterk saak teen hulle het.
Die twee verdagtes, Mervin Baartman en Sabilo Madikane, het na bewering die aand van 15 September 2017 die 18-jarige Shavros Prins op die hoek van Sesdelaan, Bongolethu, van sy selfoon ter waarde van R600 beroof.
Volgens Prins was hy en sy tante van ’n kitsbank by die Thusong Sentrum onderweg na ’n kafee toe hulle deur die twee beskuldigdes voorgekeer is. Prins het nooit sy selfoon terug gekry nie.
Die twee mans se regshulpprokureur, Eugene Roos, het in die aansoek aangevoer dat hulle ontslaan behoort te word omdat daar te veel weersprekings is en ook omdat ’n derde verdagte nooit voor die hof gebring is nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het die aansoek van die hand gewys en die saak is vir verdere verhoor tot 5 Februarie 2019 uitgestel.