Nuwe wêreldkaart wys Afrika se ware grootte

Die wêreldkaart waarmee geslagte grootgeword het, gaan dalk binnekort heel anders lyk.

Die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering het Vrydag, 4 September, ’n besluit aanvaar wat die gebruik van die Equal Earth-kaartprojeksie aanmoedig. Die kaart beeld die grootte van vastelande, veral Afrika, meer volgens hul werklike oppervlakte uit.

Die besluit, getiteld Correct the Map, is met 164 stemme teenoor een aanvaar, terwyl ses lande buite stemming gebly het. Die Verenigde State was die enigste land wat teen die besluit gestem het en het die inisiatief beskryf as deel van ’n “radikale ideologiese projek”.

Die bekende Mercator-projeksie, wat reeds sedert die 16de eeu gebruik word en oorspronklik vir navigasie ontwikkel is, vergroot gebiede nader aan die pole. Dit laat lande en vastelande soos Europa, Noord-Amerika en Groenland groter vertoon, terwyl gebiede nader aan die ewenaar, waaronder Afrika, relatief kleiner lyk.

Die groot verskil lê in die manier waarop die ronde aarde op ’n plat oppervlak uitgebeeld word. Een van die treffendste voorbeelde is Afrika en Groenland. Op ’n tradisionele Mercator-kaart kan Groenland amper vergelykbaar met Afrika lyk, alhoewel Afrika in werklikheid sowat 14 keer groter is. Afrika is met ’n oppervlakte van sowat 30 miljoen km² die tweede grootste vasteland ter wêreld, na Asië.

Die Equal Earth-projeksie is ontwerp om die relatiewe oppervlakte van lande en vastelande beter te behou. Die vorms van sommige gebiede lyk gevolglik anders as op die wêreldkaart waaraan baie mense gewoond is, maar hul grootte in verhouding tot mekaar word meer akkuraat weergegee.

Die besluit is onder leiding van Togo, namens die groep Afrika-state, voorgelê en fokus veral op die gebruik van meer akkurate kaarte.

Dit beteken egter nie dat die Mercator-kaart nou verbied word nie. Die VN-besluit is nie bindend nie en erken ook dat verskillende kaartprojeksies vir verskillende doeleindes geskik is. Die Mercator-projeksie bly byvoorbeeld nuttig vir navigasie.

Die debat gaan egter oor meer as net geografie. Ondersteuners van die verandering meen die manier waarop Afrika vir eeue op wêreldkaarte uitgebeeld is, het ook ’n invloed gehad op hoe mense die vasteland se omvang en plek in die wêreld beskou.

Die VN het self die besluit beskryf as ’n poging om op te hou om Afrika kleiner te laat lyk as wat dit werklik is.

Afrika word dus nie op die nuwe wêreldkaart groter gemaak nie, dit word bloot nader uitgebeeld aan hoe groot dit nog altyd was.

Be the first to comment on "Nuwe wêreldkaart wys Afrika se ware grootte"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*