Munisipale hoofgebou tydelik deur arbeidsinspekteurs gesluit

Die hoofgeboukompleks van die Oudtshoorn Munisipaliteit in Voortrekkerweg het Donderdag (10 September) die tweede groot gebou op die dorp geword om vandeesweek deur inspekteurs van die Departement van Arbeid gesluit te word. Die Outshoorn Landdroshof is Woensdag gesluit.

Die munisipale hoofgebou is egter net vir sewe dae gesluit om te verseker dat alle gesondheids- en veiligheidsmaatreëls asook Covid-19-protokolle geïmplementeer is.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit het inspekteurs die munisipale hoofgebou Donderdag besoek om te verseker dat aan Covid-19-regulasies asook vereistes ten opsigte van gesondheid en veiligheid voldoen word.

Hoewel die munisipaliteit ’n gereedheidsplan vir die terugkeer van werknemers asook Covid-19-beroepsgesondheid- en veiligheidsprosedures opgestel het, is leemtes gevind by die toegangsbeheer asook veiligheidsmaatreëls. Die inspekteurs het ook aanbevelings gemaak vir die verbetering van die munisipaliteit se Covid-19-risikoanalise

“Ons verwelkom die besoek en aanbevelings van die Departement van Arbeid,” sê die waarnemende munisipale bestuurder, Gerald de Jager. “Dit kan net bydra tot ’n veiliger werkomgewing. Ons sal hierdie geleentheid ten volle benut om te verseker dat die veiligheid in al ons geboue verbeter word.”

Die munisipaliteit het sewe dae tyd gekry om die geïdentifiseerde kwessies aan te spreek.

Intussen het die munisipale verkeersdepartement wat Woensdag besoek is, voldoen aan die alle nodige regulasies en gaan werk daar aan soos gewoonlik.

De Jager sê dienslewering sal soos normaal voortgaan met alle essensiële dienste wat beskikbaar sal wees. (Berig deur Liesel le Roux)