Jong Belge kom lewer groot bydrae in Prins Albert

Marijke Coornaert-Badenhorst (links) en Nell Kruger (Sonneblom Kiddies’ College) kuier saam met (van links) Alec Geerts, Lotte Janssens, Shana Luyten, Nele Devalck, Elise Janssens en Zara Wouters.

Marijke Coornaert-Badenhorst (links) en Nell Kruger (Sonneblom Kiddies’ College) kuier saam met (van links) Alec Geerts, Lotte Janssens, Shana Luyten, Nele Devalck, Elise Janssens en Zara Wouters.

SUID-AFRIKA is ’n hele nuwe wêreld en Prins Albert – letterlik en figuurlik – derduisende kilometer ver van hul lewe in Antwerpen en Leuven in België.

Maar al is dié Karoo-dorp teenaan die Swartberg “veel kleiner” as waar­aan hulle gewoond is, vind hulle dit mooi; georden, vriendelik en verwel­komend – vertel vanjaar se ses Vlaam­se studente wat pas op Prins Albert aangekom het om drie maande se praktiese ondervinding op te doen by skole op die dorp.

Zara Wouters, Elise Janssens, Nele Devalck, Shana Luyten, Lotte Jans­sens en Alec Geerts het verlede week per bus saam met hul mentor, Ma­rijke Coornaert-Badenhorst, vanaf Kaapstad in Prins Albert gearriveer om skool te hou by die Hoërskool Zwartberg, Sonneblom Kiddies’ College en Prins Albert Primêr, en later ook twee weke lank by die private skool, Albert College.

Hulle is onderwysstudente aan die Katholieke Hogeschool Leuven en die Astesis Plantijn Hogeschool Antwerpen.

Coornart-Badenhorst, wat die studente in Kaapstad ingewag het, en haar eggenoot, die kunsskilder Philip Badenhorst, besit al amper 20 jaar ’n huis op Prins Albert, alhoewel hul vaste adres in België is.

Hulle het in September verlede jaar hier aangekom om ’n sabbatsjaar in die Karoo deur te bring.
Dit is die derde groep studente wat Coornaert-Badenhorst na Prins Albert bring.

Hoewel die studente die Afri­kaanse leerders en inwoners redelik maklik verstaan – en omgekeerd – kry hulle weekliks taallesse by ’n onderwyseres van die dorp, Jakoba Visagie.
Wouters (biologie en aardrykskunde) en Devalck (voeding, versorging en geskiedenis) gee klas by Zwartberg, Elise Janssens en Luyten by Sonneblom, en Lotte Janssens en Geerts hou skool by Prins Albert Primêr.

Wouters bied ook Jujitsu-klasse by die plaaslike jeugsentrum in Noord­einde aan, terwyl die hele groep elke dag van 14:00 tot 15:30 by dieselfde sentrum kinders van 6 tot 16 met hul huiswerk help.

Woensdae vanaf 18:00 bied hulle kreatiewe lesse en sportaktiwiteite aan kinders van 13 tot 16 jaar.

Devalck het ook haar kundigheid oor voeding beskikbaar gestel vir inwoners en personeel by die plaaslike tehuis vir bejaardes, Huis Kweekvallei.

Tot einde April is hul tuiste in Suid-Afrika ’n huis in Van Dykstraat wat behoort aan ’n inwoner van Prins Albert, Barbara Gorniak.

Coornaert-Badenhorst het aan Die Hoorn gesê dat die studente twee jaar lank geld ingesamel het vir hul vlieg­kaartjies na en verblyf in Suid-Afrika.

“Niemand het vir hulle geld voor­geskiet nie – hulle moes hul eie finansie­ring reël.

“Dit was twee jaar van uiters harde werk by plekke soos bakkers en bloemistewinkels sodat hulle hier vir hulself kan sorg.”

Behalwe die ses se harde werk om by te dra tot die lewens van Prins Albert se kinders, wil hulle ook graag die omge­wing en sy mense beter leer ken – en veral Afrikaans vlot leer praat.

Daarom vra Coornaert-Badenhorst dat inwoners van dié dorp en plekke soos Oudtshoorn, Calitzdorp en George hulle uitnooi om saam met gesinne te kuier, of soms net ’n voertuig beskikbaar te stel dat die ses Belge die mooi Suid-Kaapse omgewing kan verken.