Eerste Liga-wedstryde van 2026 in Hartenbos gespeel

Foto verskaf

Saterdag, 10 Januarie, het die eerste Liga-wedstryde vir die nuwe jukskei-seisoen in Hartenbos plaasgevind.

Hierdie geleentheid het die amptelike afskop van die 2026-ligaseisoen beteken en het spelers en ondersteuners van verskeie dorpe bymekaar gebring. Spanne van Oudtshoorn, Hartenbos, Danabaai en Riversdal het aan die kompetisie deelgeneem, wat gesorg het vir sterk mededinging en ’n dag vol opwindende sport.

Die weerstoestande was gunstig en het bygedra tot ’n genotvolle dag vir spelers sowel as toeskouers.
Die gees van kameraadskap en sportmanskap was duidelik sigbaar, met spelers wat mekaar aangemoedig en goeie spel beloon het. Die wedstryde is op ’n hoë standaard gespeel en het reeds vroeg in die seisoen gewys dat 2026 ’n sterk en kompeterende jukskei-jaar gaan wees.

Oudtshoorn Jukskei-klub het met drie spanne aan die liga deelgeneem en al drie spanne het baie goed gevaar.

Hul prestasie getuig van deeglike voorbereiding, spanwerk en toewyding aan die sport. Die klub is besonders trots op hul spelers se optrede en die manier waarop hulle Oudtshoorn verteenwoordig het.

Die Oudtshoorn Jukskei-klub is voortdurend besig om die sport plaaslik te bevorder en nooi enige belangstellendes uit om deel te raak van die klub.

Oefeninge vind elke Dinsdag en Donderdag plaas by die De Jager-sportkompleks vanaf 16:00.

Nuwe spelers, jonk en oud, beginners sowel as ervare jukskeispelers, is welkom om saam te oefen en die sport te leer ken. (GRANWILLE GOLIATH)