
Karooboom se Neil Saayman wys die boorgatwater wat hy aan Oudtshoorniete skenk. Foto: Ilze-Mari Gründling
HY glo dit is die regte ding om te doen.
So sê Neil Saayman van Karooboom, ’n restaurant en winkel sowat 33 km van Oudtshoorn op die R62, wat sedert verlede week sy boorgatwater gratis aan inwoners van Oudtshoorn bied.
Saayman het boonop Sondag 15 000 liter van sy ondergrondse water geskenk om ’n watertrok te vul wat Sondag by die Smartietown-sirkel, Condorstraat, Rosevalley en Riemvasmaak aangedoen het sodat inwoners houers met water kon vul.
Die watertrok was ’n inisiatief van ’n aantal inwoners betrokke by die Oudtshoorniete staan saam-Faceboekgroep.
Onlangse reën en flitsvloede het roet en modder in die Raubenheimerdam laat beland. Die roet is die gevolg van vernietigende brande wat in Desember naby die dam gewoed het.
Die Raubenheimerdam is Oudtshoorn se drinkwaterdam, en as gevolg van die roet en modder moes inwoners sedert die KKNK drinkwater eers kook. Oudtshoorn het nie ’n watersuiweringsaanleg nie.
Saayman sê dat hy graag Karooboom se ondergrondse water met Oudtshoorn se inwoners deel. Sy aanbod staan solank inwoners op Oudtshoorn ’n waterprobleem het.
“Ons gee dit verniet. Niemand is onder enige verpligting om iets te koop nie. Ons voel dat dit die regte ding is om te doen. Inwoners moet net hul eie waterbottels verskaf.” (Berig deur Ilze-Mari Gründling)