Brand verwoes sewe strukture in oogwink

Valencia Hanse wys wat oorgebly het van die woonstruktuur waarin sy en haar skoonmense gewoon het. Foto: Garnett Wicomb

‘n Brand het Saterdagaand sewe woonstrukture op ’n erf in Polisiehoogte op Oudtshoorn verwoes.

Die brandweer kon daarin slaag om twee ander strukture en die hoofhuis op die erf te red.

Die brand het volgens een van die inwoners, Felicia Hanse, kort na 18:00 Saterdagaand ontstaan.Volgens haar het mense vuur op ’n oop stuk grond agter hul wooneenhede gemaak en is die vlamme deur wind aangedryf.

“Ons wonings was binne ’n ommesientjie aan die brand en ons kon feitlik niks red nie. Al ons klere en meubels asook wasmasjiene en ons bakkie het in die slag gebly.”

Die brandweer was gou op die toneel en kon keer dat die hoofhuis en nog twee woonstrukture red. Niemand is beseer nie.

Volgens Phillip Seroux, ‘n gemeenskapswerker van Polisiehoogte, kan hy nie kommentaar lewer oor die omstandighede nie. Hy is geroep en het die brandweer gebel. Volgens hom is twee mans glo in verband met die brand in hegtenis geneem.

Die bewoners van die wooneenhede is almal uitlanders wat op die erf van Christina Bambami woon. Altesaam 15 mense tussen twee en 70 jaar het al hul besittings verloor.

Mense wat die slagoffers van die brand met klerasie, kos, meubels of finansieel wil, help kan Hanse by 078 009 8430 kontak. (Berig deur Garnett Wicomb)