Hermias Volgraaf (regs agter) saam met Montagu Wynkelder
se toegewyde produksie-span.
Deur Schalk le Roux
“MONTAGU, ek drink jou muskadel,” sing David Kramer in een van sy bekende liedjies. Maar Montagu is al lankal nie meer net vir sy lekker muskadel bekend nie.
By vanjaar se Klein Karoo Jongwynskou het Montagu Wynkelder dit onderstreep deurdat onder meer verskeie van sy droë wit wyne en droë rooi wyne as 2017 se Kampioen en Reserwe-kampioene aangewys is. (Sien berig hierbo.)
Hermias Vollgraaff, wynmaker van Montagu Wynkelder, het die kelder se goeie uitslae by die Jongwynskou aan verskeie faktore toegeskryf.
“Ons was gelukkig dat die droogte ’n positiewe uitwerking op die gehalte van ons produsente se druiweoes gehad het. Die rooiwyndruiwe se korrels was byvoorbeeld kleiner as gewoonlik wat meer komplekse wyne tot gevolg gehad het.”
Vollgraaff was ook vol lof vir Montagu se produsente saam met wie “ons baie nou en goed saamgewerk het”. Hy het Johannes Mellet, wingerd- en wynboukundige wat lank by Vinpro gewerk het en die laaste tyd aan Montagu Wynkelder verbonde is, uitgesonder vir sy bydrae tot die kelder se sukses.
“Hy het ons gehelp om uitsoek wingerdblokke te selekteer. Ons het gereeld daardie blokke se druiwe gaan proe en sensories geevalueer voordat ons dit gepars het,” vertel hy.
Vollgraaff, wat die afgelope vier jaar lank Montagu Wynkelder se wynmaker is, sê hy is dankbaar dat hy op sy jong dinamiese kelderspan kan staatmaak.
“Hulle is nie net hardwerkend nie, maar dink ook vernuwend.”
• Vollgraaff het die graad B Agric en Keldertegnologie agter sy naam wat hy in 2007 aan Elsenburg by Stellenbosch verwerf het. Daarna het hy ondervinding in wynmaak in Kalifornië en Australië opgedoen voordat hy in Klein Karoo wynmaker geword het.
• Wynand du Plessis, direksievoorsitter van Montagu Wynkelder, sê die direksie en lede is “geweldig trots op die uitstekende uitslae wat ons wynkelder by die afgelope Klein Karoo Jongwynskou behaal het.
“Dit span die kroon op die uitstekende prestasies van die afgelope aantal jare. Ons gee graag krediet hiervoor aan die bestuurspan, maar wil vir Hermias uitsonder vir sy reuse-bydrae tot dié uitslae.”
Du Plessis sê uiteraard speel faktore soos klimaat, druiwekwaliteit en keldertoerusting ’n groot rol in die maak van ’n kampioenwyn, maar uiteindelik hang dit van die wynmakerspan af wat hulle hiermee doen.
“Die direksie is terdeë bewus daarvan dat die uitslae by die jongwynskou bewys is van Hermias en sy span se toewyding en harde werk. Daarvoor sê ons vir hulle baie geluk en baie dankie!” sê hy.