Rozanne Nel, bemarkingsbestuurder van Boplaas met die dubbelgoue Veritas-toekenning. Foto verskaf
BOPLAAS FAMILIEWINGERDE in Calitzdorp het pas uitgeblink by Suid-Afrika se twee grootste wynkompetisies,Veritas en die Michelangelo International Wine and Spirit Awards, deur twee dubbelgoue en nege goue medaljes daar los te slaan.
Boplaas het ’n dubbelgoue Veritas-toekenning gewen vir die Boplaas Heritage Muscadel 2014, ’n dessertwyn van handgeplukte Muskadel-druiwe van ʼn 33 jaar-oue wingerd.
By Michelangelo het Boplaas dubbelgoud ontvang vir die Boplaas Gamka 2015, ’n rooi versnit van
Touriga Nacional, Tinta Barocca, Touriga Francesa en Shiraz. Hierdie wêreldklas-wyn het onlangs ’n uitnemende 91/100 puntetoekenning gekry by ’n beoordeling deur Tim Atkin, die vooraanstaande Britse Wynmeester.
Drie goue Veritas-medaljes het gegaan na die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2015 en 2013 (beide Suid-Afrikaanse kampioene by die SA Jongwynskou) en die Boplaas Cape Tawny (beste port by die CAPPA Challenge).
Boplaas het ook ses goue medaljes gewen by Michelangelo. Margaux Nel, Boplaas-wynmaker, sê sy is veral trots op die Boplaas Touriga Nacional 2015, aangesien dié Portugese kultivar die onderwerp van haar MSc-tesis in wingerdkunde aan die Universiteit van Stellenbosch was.
Boplaas het ook reg laat geskied aan sy geskiedenis van distillering wat uit 1880 dateer. Die 20 Jaar Potketel Brandewyn en die Boplaas Craft Gin het beide goue medaljes by Michelangelo verower.
Boplaas het ook goud by Michelangelo gewen vir die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2014, die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2013 en die Boplaas Cape Tawny.